Categories: NewsPublished On: 19th September 2011

Aan Jannie: Tussen die bye en ver van die koek

By 9 min read
Aan Jannie
 
Die ryk boere waarvan hulle jou daar op die landbouskool vertel, is dun gesaai. Geld teel maar swak op ‘n plaas aan. Die weer en die markte is te onseker, die middelman te skelm.
 
Ek stry nie dat daar ryk boere is nie. Maar die klompie wat ryk is, het hulle nie ryk geboer nie. Hulle het maar die tienduisend morge geërwe wat oupagrootjie destyds afgery het toe die wêreld nog oop was.
 
Oupa het met min klaargekom. Al die oumense het met min klaargekom. Vader het wel meer nodig gehad en meer geld uitgegee, maar ook hy het geen skuld gemaak nie; en vir ‘n verband was vader so bang soos ‘n bok vir ‘n skoot hael.
 
Toe die vader sterf, het oupagrootjie se seun se kleinseun die familieplaas geërwe, ‘n tamaai groot plaas, tienduisend morge wat intussen minstens vier pond per morg werd geword het.
 
So ‘n vent is ryk; ek stry nie. Maar moet jou tog nie laat vertel dat hy hom ryk geboer het nie. Sy voorouers het maar net die verstand gehad om stil te sit en die grond duur te laat word. Hulle het, soos die dorpenaars sê, sit-sit ryk geword. Vandag teer hulle op hulle kapitaal.
 
‘n Klompie spekuleer hulle ryk. Ander word per ongeluk ryk. Daar word goud of diamante of so iets op hulle plase ontdek, of die regering kry hulle grond vir besproeiingskemas of naturellelokasies nodig. Maar hoewel so ‘n man miskien later op die dorp sal vertel hoeveel ryker hy sou gewees het as die regering sy grond nie afgeneem het nie, sal hy tog geen boer wat hom ken, probeer wysmaak dat hy hom ryk geboer het nie.
 
Daar is wel boere wat hulle verbeel dat hulle hulle ryk geboer het, Piet Mof Modderpan, byvoorbeeld. Voor die oorlog was ou Piet ‘n doodgewone skaapboer soos die meeste skaapboere maar is. Sy vader se plaas wat hy met skuld en al geërwe het, was nie te sleg nie, ook nie te goed nie. Hy het by die vierduisend skaap aangehou, goeies en slegtes deurmekaar, soos enige ander boer.
 
Die wol wat hy geskeer het, was gewone wol. As hy die jaar ‘n sjieling daarvoor gekry het, was hy sommer baie tevrede. Hy was, soos ek gesê het, ‘n doodgewone skaapboer met ‘n doodgewone trop skape.
 
Toe kom die oorlog. Die regering het die wol opgekoop, kastig om die boere te help, maar eintlik om te keer dat die vyand die wol in die hande kry. Hulle het nogal ‘n goeie prys betaal, want dit was die Engelse se geld wat hulle uitgegee het, nie hulle eie nie.
 
Toe die mense oor die water eindelik vrede maak, het party nasies al vir vier jaar lank nie wol kon koop nie. Selfs in die lande wat wol gehad het, het die kleremakers al daar by die agtien pond vir manspakke gevra.
 
Piet Mof het daardie jaar baie laat geskeer, want die ou se naam was toe al so sleg onder die volk dat hy geen skeerders kon kry voordat al die ander boere kant en klaar was nie. Daarna het dit nog lank geduur voordat hy die wol by die stasie kon kry, want die transportryers was vir die ou ook maar lugtig.
 
Toe Piet Mof se bale uiteindelik in die baai aankom, was die mark leeg. Dit was die kopers se laaste kans. Hulle het die wol sommer stormgeloop. Die ou kry die môre daar in die baai mooi vyf sjielings en ‘n sikspens die pond vir sy wol.
 
Begryp jou, drie pond per skaap, en die ou het by die vierduisend skape geskeer, sommer ses jaar se wolgeld in een jaar. Die ou het my self gesê dat hy eintlik geskrik het toe die hoop geld daar op die plaas aankom. Nou vertel hy hy het hom ryk geboer. Hy het die ding sien kom en sy mowwe opgepas.
 
In Suid-Wes is daar vandag heelparty ryk boere. Hulle sal jou vertel hoe vooruitstrewend hulle was en hoe hulle lont geruik het en betyds met die karakoele begin boer het. Hulle verbeel hulle dit maar.
 
Toe die Duitsers eers karakoele ingevoer het, het die velletjies-verkoop glad nie betaal nie. Vir die ramme wat ons eie regering op Middelburg geteel het, was daar so min aanvraag dat die regering die ooie maar teruggestuur het Nuwedam toe.
 
In Suid-Wes het ‘n karakoelram naderhand op omtrent dieselfde peil gestaan as ‘n donkie. Die Duitsers kon die goed skaars weggee.
 
Toe sit die boere karakoelramme onder hulle swartkoppersies. Jy weet moes hoe graag ‘n boer laat baster, veral as hy vir die vleismark teel. Maar ‘n karakoel is te swak agter die blad vir ‘n vleisskaap. Die ding het mos geen voorlyf nie. En wat die kêrels makeer het om swartkoppies wat ook geen voorlyf het om van te praat nie, met karakoele te probeer kruis, gaan moeilik om te sê.
 
Die kruisskaap was so ‘n mislukking dat hulle die karakoelramme die derde jaar vankant gemaak het. Maar toe die veleltjies duur word, het die kêrels darem die basterooie gehad en die basterooilammers. Waar die ander nog jare moes spartel om so ver te kom, kon hulle dadelik met velletjies-verkoop begin.
 
Vandag is die kêrels ryk en vertel hulle dat hulle die duurword van die velletjies van ver af sien kom het. Maar glo my, hulle het die ding maar sien kom toe hy halfpad verby was.
 
Min boere betaal inkomstebelasting. Dis kastig omdat die boer so skelm is. Maar daar woon mense op die dorp wat in hierdie opsig die skelmste boer se moses is, en tog, aan die dorpenaars se praat te oordeel, betaal hulle die laaste een inkomstebelasting.
 
Daar word vertel dat die boer meer kans kry om te fop. Die regering vra net vir hoeveel hy verkoop het en vir hoeveel hy gekoop het, en niks meer nie. Dan betaal hy maar op die verskil tussen sy inkomste en uitgawes. As die boer dus ‘n enkele jaar sien dat hy gevaarlik meer gaan inkry as wat hy uitgegee het, en dat die belasting hom gaan vang, sorg hy dat hy gou ‘n klompie meer uitgee.
 
Dit klink maklik. Maar glo my, ‘n boer dink verniet hy sal dit regkry om by die magistraat verby te spring. Party probeer wel. Dik Dirk het in sy leeftyd geen enkele pennie inkomstebelasting betaal nie. Hy het maar elke jaar veld gehuur en beeste bygekoop om sy winste dood te vee.
 
Maar toe hy die dag sterf en sy spul beeste op die boedelvendusie kom, haal die goed die dag oor die tienduisend pond. Begryp jou, tienduisend pond inkomste in ‘n enkele jaar!
 
Sy boedel moes maar opdok, nogal ‘n oorwinsbelasting boonop; en oorwinsbelasting, moet jy weet, is mooi twee sjielings op elke pond.
 
Inkomste kan ‘n boer onmoontlik wegsteek. Selfs ‘n prokureur probeer verniet om ‘n boer se inkomste te verminder, want om geld in die hande te kry, moet ‘n man tog iets aan iemand verkoop; en daardie iemand skryf dan dadelik neer dat hy soveel en soveel aan die boer uitbetaal het.
 
Vra maar vir ou Joors. Daar is in een jaar sommer ses varke gelyk by die ou op die plaas dood. Die volk het die afgeroomde melk glo in die sprinkaangif-kan laat dik word. Die ou se vrou het seep gekook en, omdat sy soveel seep onmoontlik self kon gebruik, het sy drie pond se seep op die dorp gaan verkoop.
 
Of ou Joors die drie pond wat sy vrou ingekry het maar vergeet het en of hy die inkomstetjie moedswillig uitgelaat het, weet ek nie. Maar die winkelier het in alle geval die drie pond wat hy vir die seep uitgegee het, nie vergeet nie. Uitgawes onthou die mensdom maklik as hulle belastingvorms invul.
 
Die magistraat het ou Joors mooi kantoor toe laat kom. Die spulletjie kos die ou tien sjielings boete en boonop moes hy inkomstebelasting betaal, nie op die drie pond wat hy uitgelaat het nie, maar op die nege pond wat die magistraat op sy vorm laat invul het.
 
Ek beweer nie dat daar nie skelm boere is nie. Ons is maar van dieselfde stoffasie gemaak as die dorpenaars. Maar laat jou tog nie van daardie kêrels wat nog nooit geboer het wysmaak dat ‘n boer sy inkomste kan wegsteek nie.
 
Met sy uitgawes is dit anders. As jy jou uitgawes deur ‘n goeie prokureur laat invul, word jou plaasonkoste heelwat groter. Slytasie word gevra vir ploeëns en windpompe wat al lankal nie meer in gebruik is nie. Jou volk kry meer in ‘n maand as wat jy self kans sien om hulle in ‘n jaar te betaal. Jou damme word duurder, jou draadheinings langer, jou pale swakker. Dis verbasend hoeveel goeie nieshoutpale so ‘n vent in ‘n enkele jaar kan laat afvrot.
 
Maar selfs ‘n prokureur kry dit nie reg om jou meer as sowat vierhonderd pond meer te laat uitgee as wat jy reeds self opgegee het nie. Hy spaar jou maar so tien, twaalf pond op jou belasting en as jy die vyf pond wat hy vir sy werk vra in ag neem en dan nog al die heen-en-weer ry dorp toe en al die geld wat jy en jou vrou onnodig op die dorp uitgee, dan kon jy die tien pond maar liewer gaan betaal het.
 
‘n Boer is maar gewoonlik tussen die bye en ver van die koek. As ryk boere volop was, sou jy nie so baie van hulle hoor praat nie. Dis net in die dorre ou karoo en die deur-droogte-geteisterde noordweste waar panne en kolke, vleiplase en fonteinplase die aandag so trek.
 
Die baie boere wat die inkomstebelasting vryspring, is nie skelm nie. Hulle is arm. Op neëntig uit die honderd plase gaan dit broekskeur om ‘n bestaan te vind. Daarom dat die mense so dorp toe trek. Of sou daardie meesters van jou meen dat dit vir ‘n boer ‘n kleinigheid is om onder ‘n baas te gaan staan?
 
Lees volgende Saterdag nog ‘n brief aan Jannie.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0