Categories: NewsPublished On: 15th August 2011

Aan Jannie: Taks ‘n man liewer glad nie

By 6 min read
Jannie Steyn se gryse ou vader stuur nog ‘n brief aan sy seun op universiteit. Die boek, Aan Jannie, is in die veertigerjare van die vorige eeu deur GC en SB Hobson geskryf, maar die waarhede daarin geld steeds. Lees elke Saterdag verder aan Aan Jannie in Oppiestoep.
 
Aan Jannie
 
Jy sal dikwels ‘n man van sy wederhelf hoor praat en daarmee te kenne wil gee dat hy net soveel seggenskap het as sy vrou; maar ek twyfel of ‘n man se deel van die seggenskap ooit die helfte so groot as sy vrou se helfte is. Twee helftes wat mooi ewe groot is, bestaan om die waarheid te sê, in hierdie ou wêreld maar net op papier.
 
Ek het eenslag volstruise vir jou oom Loffie om die helfte grootgemaak. Toe jou oom die oggend kom om die voëls te deel, het ek die trop daar in die middelkraal bymekaar gehad waar jy en die volkies altyd kalwers gery het. Die mure was toe net ‘n voet of so hoër, want in daardie dae het ons nog mis vir vuurmaakgoed gebruik en om die koeke droog te kry, het ons die krale elke jaar ‘n ry bo-op die mure gegee.
 
Ek stel toe voor dat ons die hek oopmaak en my helfte maar aftel. Maar daarvoor het jou oom Loffie nie kans gesien nie. Volgens hom is dit altyd die gesondste voëls, dié met die grootste eetlus, wat by die hek staan en veld toe dwing.
 
Toe stel ek voor dat hy dan maar vir hom die helfte moet aftel. Ek sou met die helfte wat in die kraal agterbly tevrede wees. Ook daarteen het hy beswaar gemaak. Die gesondste voëls is nie noodwendig goed geteel nie, het hy gesê. Hulle is in die reël goed van vleis, maar swak van vere.
 
Jou oom Loffie was jou ma se eie broer, en van ‘n man wat dood is, wil ek geen kwaad praat nie; maar hy was ‘n volstruisboer en het ‘n volstruis geken, terwyl ek ‘n beesboer was wat toe nog nooit ‘n volstruisveer in my hand gehad het nie. As ons twee vir ons voëls om die beurt moes uitsoek, sou ek maar bedroë daarvan afkom.
 
Toe ek sien waarheen jou oom Loffie mik, toe speel ek sommer gou.
 
“Ek het vanmôre heelwat werkies,” sê ek vir hom. “Deel jy maar die voëls. Jy ken mos ‘n volstruis. Ja dié wat jy vir jou uitsoek in die koeikraal en sit myne maar in die takkraal langsaan.”
 
Loffie het hom die môre nie laat aanja nie. Toe hy eindelik oorkom huis toe om eers ‘n stukkie te eet voordat hy ry, staan die trop melkkoeie lankal voor die kamphek opgedam, en was jou ma al net omgekrap dat daar nog geen koffiemelk in die huis is nie.
 
Onder die ete het jou oom opgewek gesels. Hy wat Loffie is, het die tweehonderd voëls een vir een van die volk laat vang, en hy het die laaste een se vlerkvere deurgekyk. Die twee klompe voëls soos hy hulle nou daar het, is so eenders as maar kan kom, vertel hy.
 
Aangesien sy ou swaer ‘n volstruisboerdery aan die gang wil sit, het hy sommer ‘n uithaler-mannetjie onder sy ou swaer se klomp ingeja; ‘n paar mooi wyfies ook. Die heel mooiste het hy ‘n rooi kol agter die nek geverf dat ek haar maklik sal ken. Hy sou enigiets wil doen om my aan te help. Jou ma was naderhand net trots daarop dat haar broer Loffie soveel vir ons oor het.
 
En tog, toe Augus die melk later inbring en vertel dat die volk die volstruise wat in die koeikamp gestaan het maar veld toe moes laat loop omdat die koeie so onder die goed gestoot het, het dit vir my gelyk of jou oom Loffie minder tevrede was met die helfte wat in die takkraal agtergebly het en wat hy toe maar moes vat.
 
Hy het in alle geval baie kortaf gegroet en ek het later gehoor dat hy die mense vertel dat ek hom met die volstruisdelery lelik in die nek gekyk het.
 
Die bul wat volgens jou landboumeesters die helfte van die beestrop is, is maar baie soos die klompie volstruise wat jou oom Loffie die volk in die takkraal laat sit het. Hy is die helfte, mits dit die ander man se helfte is.
 
As jy die dag volstruise deel of osse koop of hoe jy ook met ‘n ander deurmekaar raak, onthou dat die ander man ook ‘n bietjie verstand het. Daar loop partymaal sommer ‘n baie goeie motor onder ‘n verflenterde kap.
 
Ek was een middag by toe twee afgevaardigdes van die afdelingsraad ‘n verslag moes indien oor die wenslikheid daarvan om padmaak-masjinerie aan te skaf. Die een was ‘n prokureur. Hy het die saak baie duidelik voorgedra: hy en die oubaas wat hulle saamgestuur het, sy mede-afgevaardigde het hy hom genoem, was baie tevrede met wat hulle gesien het. Met klipbanke, rotse en wat ook voorkom, speel die motorploeëns gou klaar. Vragte, vragte gruis word in ‘n heen-en-weertjie losgeruk en oor die pad gestrooi. Die kêrels maak sommer twee, drie myl pad op ‘n dag.
 
Die man se rapport was so gunstig, hy het sy syfers so mooi agtermekaar gehad dat ek gedink het dat die voorstel sonder meer sou deurgaan.
 
Maar moenie glo nie. Die een boer na die ander het opgestaan en beswaar gemaak: masjinerie is duur, ingevoerde goed. Die olie wat gebruik word is duur, ingevoerde olie. Grawe, inteendeel, is goedkoop; die volk verstaan om met ‘n graaf te werk; hulle het nog al die jare met grawe gewerk. Wat makeer ‘n graaf dan?
 
Toe dit lyk of die prokureur gaan vasbrand, staan die oubaas wat saamgegaan het, ewe beskeie hoed in die hand op, nogal ‘n taamlik verflenterde hoed.
 
“Vriende,” het hy die saak vir hulle verduidelik. “’n graaf is ‘n gawe ding, ‘n baie gawe ding. Ons weet dit almal. Maar ‘n man spit tog nie jou lande met ‘n graaf om nie.”
 
Die oumense het altyd gesê ‘n man moet ‘n ander nie aan sy baadjie taks nie. As jy met ‘n ander deurmekaar raak, taks hom liewer glad nie. Neem dit sommer as vanselfsprekend aan dat die ander man nie onnosel is nie. Dan spaar jy jouself baie hoofbrekens.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment