Aan Jannie: Spekuleer is nie sonde nie
Jannie Steyn se gryse ou vader stuur nog ‘n brief aan sy seun op universiteit. Die boek, Aan Jannie, is in die veertigerjare van die vorige eeu deur GC en SB Hobson geskryf, maar die waarhede daarin geld steeds. Lees elke Saterdag verder aan Aan Jannie in Oppiestoep.
Aan Jannie
Jou ma het vanoggend met Sakkie Sandlaagte-hulle nagmaal toe gery. Augus is hier voor in die blomtuin aan skoffel en werksoek, dit nogal op ‘n Sondag. Die ou speel kindermeid. Hy moet glo sorg dat hy naby sy oubaas bly.
Jou ma meen mos dat ek die dag daar op die land beroerte gekry het en dat sy enige dag ‘n tweede aanval te wagte kan wees. Dis sommer bog. Dit was die dag net warm en ek het my ooreis. Dis maar die ou plek in my rug waar ek seergekry het toe die perd my die dag gesleep het, wat my so op my oudag optel.
Augus sê hy het lekker op Mieliebult gekuier. Ou Joors het vanjaar weer prima slagvarke, glo weer een-en-twintig. Ek sou die goed graag wil sien. ‘n Vet ding is vir my altyd mooi en ou Joors verstaan die kuns om met ‘n vark te werk.
Ek wonder of die ou al die gewig en die waarde van ‘n slagvark ken. Ek hoor hy vertel die mense hy is ‘n produseerder, ‘n boer wat boer en nie rondry om goed wat ‘n ander grootgemaak het, te probeer koop nie.
Die ou skimp glo op my. Maar waarom moet dit nou juis verkeerd wees as ‘n boer die verstand wat die Heer hom gegee het, gebruik en spekuleer om sy ou inkomstetjies aan te vul?
Ek het by ou Hans Kopke bo in Suid-Wes een slag ‘n spul geelbont osse gekoop, Siementhalers noem die boere hulle in daardie gewese, tamaai groot goed, maar te benerig om eintlik prima slagbeeste te wees.
Hans se bure was toe net besig om oor te saal en karakoelskape aan te skaf. ‘n Paar het juis die dag stoetramme van Nuwedam laat kom en Hans het net lelik uigewei oor die sonde daarvan om die stomme lammertjies so te laat keelafsny.
Maar die karakoelboerdery het beter as die beesboerdery betaal, baie beter, en toe ek ‘n paar jaar daarna weer by Hans uitkom, is hy self ‘n groot karakoelboer, en hang die lammervelletjies sommer swart teen sy waenhuismure. Toe praat hy glad anders. Skape word tog maar keelafgesny, het hy aan my verduidelik, en of jy die ding nou om sy vleis of om sy vel keelafsny, kom nie eintlik daarop aan nie.
Na die Groot Oorlog was ons distrik vervuil van die donkies. Daar was glad geen prys vir ‘n donkie nie. Jy kon die goed skaars weggee. Die boere het sommer hulle eie donkies laat aanja skut toe om die bietjie aanja- en oortreegeldjies in die hande te kry. Die skutte was naderhand oorvol en het geweier om donkies te ontvang.
Ek was self op Blikfontein by toe die skoolkinders met speeltyd elkeen met ‘n hoender onder die arm aangehardloop gekom het en elkeen sy hoender vir ‘n donkie verruil het.
Toe maak Piet Smit, ou Joors se broer, ‘n splinternuwe plan. Hy het vir hom seeppotte aangeskaf en donkies opgekoop, eers net by die skutte en op boedelvendusies; later selfs by die boere, honderde donkies op ‘n slag, teen sowat twee sjielings stuk, groot en klein soos hulle loop.
Vir die donkievelle kon Piet Smit geen mark vind nie. Sy volk het naderhand hulle strooise daarmee oorgetrek. Maar vir die vet wat hy laat uitbraai het, die bloedmeel, was die mark uitstekend.
Ek het self gaan kyk na die donkiemoordery soos die mense wat nie self daaran gedink het nie, Piet se nuwe besigheid genoem het.
Piet het die goed nie laat doodskiet of keelafsny soos ek verwag het nie. Hy het die donkie wat hy wou slag, eenvoudig laat vang en ‘n klappiestoom laat aansit, daarna net een hou met die voorhamer voor die kop, mooi op die kroontjie, en die donkie slaan morsdood neer.
Dit was die gouste, die genadigste doodmaak wat ek in my lewe gesien het. Die donkies het gedink hulle word maar soos gewoonlik ingespan, en toe hulle hulle weer kom kry, is hulle morsdood. Maar volgens die bure was dit tog te vreeslik. Piet Donkie sou nog eendag gestraf word.
Tog het die prys van donkies gestyg. Nie lank nie of Piet moes vyf sjielings stuk betaal; naderhand tien sjielings. Die volgende winter het die bure hom so op die vendusies opgeja dat hy glad vyftien sjielings moes betaal om die goed in die hande te kry.
Die derde jaar het Piet probeer seepkook, maar verniet. Weens die mededinging was die prys van donkies selfs vir seepkook te hoog…
Spekuleer, moet jy weet, is maar baie soos lammervelletjies verkoop en donkievet uitbraai. Dit is net sonde as jy dit nie self kan regkry nie.
Lees volgende Saterdag nog ‘n brief aan Jannie.