Aan Jannie: Reën maak die boer koning
Aan Jannie
Ou Augus het gister die trappie by die agterdeur al afgebreek en is vandag besig om ‘n geleidelike afdraandjie, soos jy aan die hand gedoen het, vir die stootkarretjie uit te messel.
Dis ‘n goeie plan van jou. Dit sal vir my aangenaam wees om soggens weer by die krale te kom. Ek weet nie hoekom ek nie self daaraan gedink het nie. ‘n Mens kan sien jy begin jou kop gebruik. As jy eendag weer werk, sal jou hande ook wel regkom.
Ek noem dit maar terloops, maar dit het my gehinder laas toe jy hier was dat jy so selde self ‘n hand aan ‘n werkie gesit het. Die volk moes maar breedstaan: “Augus, gooi vir my die walle reg, ou jong”; “Andries, gaan jy vir my nou eers die dam ooptrek”; “Griet, sê vir Augus hy moet vir Andries sê Andries moet die perd vir my opsaal.”
Daar is maar by ons almal ‘n ingebore neiging om ons ou werkies op ‘n ander af te skuif. By party word dit ‘n gewoonte; by ander sommer ‘n kwaal.
‘n Kêrel wat ek eenslag langs die Molopo raakgery het, het glad op die stoep gesit met ‘n klonkie voor hom aan ‘n kameelboom vas dat hy nie elke slag na die klonkie hoef te gaan soek as hy hom wil omstuur kombuis toe om vir hom te gaan koffie haal nie.
Hulle vertel daar is vandag skaapboere wat ‘n skaap nie self kan skeer nie en beesboere wat nog nooit ‘n koei gemelk het of ‘n os ingespan het nie. Dit kan wees. Maar wie help die volk dan reg as hulle sleg skeer, en wie die drommel melk die koeie as die swartgoed die môre nie opdaag nie?
Min van die Vrystaters wat Betsjoeanaland toe getrek het, het dit lank gemaak. Nadat die grootwild uitgeroei is, het die plase hulle die een na die ander met regeringsgelde en al afgegooi. Ek het altyd gemeen hulle kon nie regkom omdat hulle die land nie verstaan het nie. Maar een oubaas het die saak vir my anders uitgelê. Hy sê die Vrystaters kon nie in Betsjoeanaland boer nie omdat hulle die Basoetoekaffers in die Vrystaat agtergelaat het.
Ek wil nie hê ‘n boer moet al die ou plaaswerkies self doen nie. Hy raak naderhand so verdiep in die produseerkant van die boerdery dat hy die verkoopkant uit die oog verloor. Maar ‘n boer moet die werkies self kan doen as dit die dag nodig is, en beter kan doen as sy volk. Waarom is hy anders baas?
As jy met osse boer, moet jy ‘n os ken. En hoe sal jy die os ken as jy die kalfie nie self hokgeslaan het, die tollie nie self geleer het of die os self ingespan het nie?
As ‘n man wil boer, moet hy diere ken. Hy moet sommer met die eerste oogopslag weet of die dier siek is of gesond, of sy neus nat is of droog, of sy hare reg lê of verkeerd.
‘n Boer kan mos nie heeldag met ‘n koorspennetjie in die baadjiesak rondstap en sy diere die laaste een vang en die ding in hulle bekke indruk nie.
Ek noem dit maar terloops. Ek weet jy het in die koeikraal grootgeword. Jy het self getjoggem; self kalwers gery. Ek waarsku maar dat die speeltyd daar op universiteit jou hande nie naderhand laat slaphang vir die werk wat voorlê nie.
Dis vir my ook asof jy hierdie vakansie alte maklik geld uitgegee het. Jy het my aan die seun van die ryk man op Johannesburg laat dink.
Die vader, vertel hulle, het eendag ‘n motor gehuur en toe hy by sy huis afklim, betaal hy die kêrel die halfkroon wat hom toekom.
“Maar Meneer,” stribbel die kêrel teë toe hy die enkele halfkroon in die holte van sy hand bekyk, “u seun betaal my dan altyd tien sjielings.”
“My seun, ja,” sê die oubaas, “maar my seun het ‘n ryk vader.”
Dat jy vir die kaartjies moes betaal elke slag wat jy ou Piet se meisiekind bioskoop toe geneem het, kan ek verstaan. Die ou is maar arm. Maar of dit nou juis nodig was dat julle twee elke aand so vroeg dorp toe moes ry en eers by die hotel gaan eet, is ‘n ander saak. Geld, moet jy weet, is rond: die ding rol; en hy rol van jou af weg.
Ek het dit half verwag dat jy vir ou Piet se boerdery sou opkom. Hy boer mos op stal, soos daardie landbou-meesters van jou wil hê. Ou Piet glo te maklik wat hy lees. Papier is geduldig.
Dat hy met daardie koeistalle van hom minder van die wolke afhanklik is as ons hier op Vleiplaas, stem ek met jou saam. Maar dis nie net ons wat ons nekke so rek en na die wolke kyk nie. Die laaste mens hou maar die wolke dop, selfs die dorpenaar, want die boer is tog maar die dorpenaar se melkkoei, en die dorpenaar weet hy gaan verniet onder sy koei sit as die gras die jaar nie groei nie.
As die beeste baljaar en agteropskop, as die duisendpote loop en die skilpaaie maat soek, gaan dit reën, sê die boer; as die paddatjies skree en die krappe die rivier verlaat; as die rysmiere woel; as die sout klam is en die vlieë klewerig; as die reënvoël roep en die rumatiek pla.
Dit reën met die volmaan, sê die boer. So nie met die volmaan nie, dan met die verandering van die maan, of drie dae voor die verandering of drie dae daarna.
As die maan baklê, hou hy die water in, sê die boer. As hy vooroor hang, gooi hy die water uit.
‘n Man moet veral op die eerste twaalf dae van die jaar let, sê die boer. Die eerste twaalf dae bring voorspoed of teenspoed, want soos die eerste twaalf dae is, so sal die twaalf maande wees.
Om op die wind te let, is by die boer in die droë dele tweede natuur. Die gedagte daaraan is nooit uit sy onderbewussyn nie. Ek het boere al van hulle perde sien afklim en hulle pompe se brieke aandraai net om seker te maak of die wind werklik aan die verander is en of dit nie maar die pomp se stert is wat so styf geveer is nie.
Hoe droër die deel, hoe meer reënmeters staan daar op die plase en hoe meer klim die boere saans teen die koppies uit om te kyk of daar nie weerlig uitslaan nie.
Die boer meen altyd die reën is net agter die bultjie, die goeie jaar net om die draai. Die wind kan waai soos hy wil, sê hy by homself, die reën kom tog maar van bo.
As dit die dag in die droë dele reën, is dit asof die uitgeruste aarde meteens wakkerskrik, asof die laaste grassie en bossie en al die ou rankgoedjies vorentoe beur en wil wys wat hulle kan doen.
In die Kalahari, vertel die wildebeesvreters, rank die karkoere so vinnig oor die sand as dit die jaar reën, dat hulle hulle ou vrugtetjies nerf-af sleep. Die kêrels vergroot die ding miskien, maar na ‘n landsreën kan ‘n man daar by hulle op die middag onder ‘n kameelboom sit en die wêreld in die windstilte hoor groei.
Piet Engels se koeistalle en die lusern wat hy koop, is wel ‘n goeie agterdeur. Maar moet jou tog nie laat vertel dat die ou nie soos ‘n ander sy nek verrek om na die wolke te kyk nie. Alles sal regkom as ons maar ons bes doen, het die ou president gesê; maar glo my, daar kom niks op ‘n plaas reg nie, selfs nie by ou Piet se plaas as dit die jaar nie reën nie.
As dit maar reën, is die boer baas op sy plaas en koning onder die mense. As dit nie reën nie, is hy die slaaf van die bank en die regering se hotnot.
Lees volgende Saterdag nog ‘n brief aan Jannie.