Categories: NewsPublished On: 5th September 2011

Aan Jannie: Probeer alle dinge en behou dié wat betaal

By 11 min read
2131 words
Aan Jannie
 
Die gedagte aan die bank en daardie vierhonderd osse wat ek so onnodig moes weggee het my van stryk gebring. Ek wou laas eintlik van spekuleer vertel het.
 
Volgens jou ma het Piet Donkie, ou Joors se broer van wie ek vertel het, nie gespekuleer nie. Hy het wel onder die boere rondgery, sê sy, en donkies opgekoop; maar hy het die donkies nie weer verkoop nie. Hy het vet verkoop en bloedmeel, vleismeel en beenmeel. Hy was dus geen spekulant nie. Hy was ‘n fabrikant.
 
Dit kan wees. Maar toe ek die tyd met die Groot Oorlog maer bokke langs die Grootrivier opgekoop en laat slag het om die velle in die hande te kry, het sy gekla dat ek alweer aan spekuleer was.
 
Toe ek haar vaneffe daaraan herinner en vra of vetverkoop dan so hemelsbreed van velleverkoop verskil, het sy my die antwoord skuldig gebly.
 
Daardie velleverkoop het nogal betaal. ‘n Vet, uitgegroeide bokkapater kos geld, veral as die ding langs die Grootrivier grootgeword het. Hulle weeg daar swaar. Vet boerbokke, soos ek gesê het, is altyd duur. Maar vir ‘n maer bok, veral vir ou maer bokooie, is daar geen prys nie. Dog geen vellekoper vra ooit of die bok wat jy geslag het vet of maer was nie. Hy gooi eenvoudig die vel op die skaal en betaal volgens gewig.
 
Toe velle meteens duur word (ek weet tot vandag toe nog nie waarvoor hulle soveel bokvelle in die Groot Oorlog gebruik het nie, maar sommer ‘n swak vel het naderhand daar by die tien sjielings gehaal. Een kêrel het glad twee pond vir ‘n vel gekry. Dit was glo ‘n wit kalfvel wat hy rooi gekleur en onder sy bokvelle ingesmokkel het), toe velle meteens duur word, is ek en Augus dadelik langs die Grootrivier af en voordat die boere begin lont ruik het, het ons al oor die vierduisend boerbokke opgekoop, vettes en maeres deurmekaar.
 
Die klompie hardvettes het ek Johannesburg toe gelaai en die ander het ek die volk laat keelafsny en die velle insout. Jammer dat growwe sout so skaars in daardie geweste is; anders kon ons die gewig van die maerste velle ‘n bietjie aangehelp het.
 
Van die rugstringe en die boude het ons biltong gemaak wat ek later aan die grootwildjagters verkoop het. Die kêrels het my nogal ‘n taamlike prys betaal. Hulle soek mos altyd na iets om hulle wildsbiltong ‘n bietjie meer gewig te gee.
 
As ek destyds van Piet Donkie se bloedmeelmakery en vleismeelmakery geweet het, kon ek miskien probeer het. Maar die wêreld was toe nog oop en die mensdom het nie so gesukkel om van die laaste ou afvalletjies gebruik te maak nie.
 
Die bene het ek die volk darem laat bymekaarmaak; maar toe ek uitvind dat die prys skaars die transportgeld stasie toe betaal (die spoor was toe nog maar tot op Prieska) het ek die geraamtes in die rivier laat gooi.
 
Die osse wat ek opkoop en vetmaak was nog altyd my beste bron van inkomste gewees soos dit ook joune sal wees as jy eendag hier op Vleiplaas boer.
 
Ek het nog altyd gemeen dat ek met osse boer. Maar nou moet ek van jou ma hoor dat osse koop en verkoop pure spekulasie is en niks anders nie.
 
Ek het ook jare lank slagvee vir ‘n Bolandse firma opgekoop, soveel honderd osse en soveel duisend skape per maand waarop hulle my ‘n vasgestelde profytjie betaal het; vyf sjielings op ‘n os en ‘n sikspens op ‘n skaap. Op tweehonderd osse en sesduisend skaap per maand is dit nogal ‘n mooi klompie geld.
 
Dis vir jou ook sommer lekker spekuleer, want jy koop met ‘n ander man se geld, en die vee wat jy koop is klaar verkoop, voordat jy hulle gekoop het. Maar vaneffe onder die koffiedink het jou ma beweer dat ek destyds glad nie gespekuleer het nie. Ek het maar agent gespeel.
 
Wat is spekuleer dan? Moet daar noodwendig ‘n risiko by wees soos jou ma wil hê? Moet ‘n man die ding koop en die einste ding dadelik weer verkoop, of hoe? Jy kan gerus daardie meesters van jou vra. Hulle vertel mos jou vader boer nie; hy spekuleer. Miskien weet hulle wat spekuleer is.
 
Baie boere spekuleer onverstandig. Hulle koop en dan laai hulle sommer blindweg Johannesburg toe. Af en toe geluk dit hulle om ‘n profytjie te maak, veral in die begin as die agente hulle nog wil makmaak. Maar op die ou end sit die agente tog maar met die geld en die boer met die ondervinding.
 
Soos daardie Johanesburgse veekopers ‘n boer kan verrinneweer is verskriklik. Ou Saks op die dorp vertel as jy hulle handgee, moet jy die vingers tel wat jy terugkry.
 
Die kêrels span mos saam. Hulle laat mooi al die boere gelyk weet dat die mark leeg is en die aanvraag vir slagvee sommer baie goed. As die boere osse of hamels het wat enigsins vet is, moet hulle dadelik laai.
 
Die eerste paar treinvragte verkoop uitstekend. Maar nie lank nie, of die mark is oorlaai. Die kopers begin uitsoek. Hulle betaal net wat hulle wil, want die vee kan tog nie teruggestuur word nie. Dis te ver en te duur.
 
As die slagters en die veekopers, die agente en hulle vriende hulle klaar dikgekoop het, en die huurplase rondom die stad vol staan van die vee, hou die klomp weer kajuitraad en word daar weer aan al die boere gelyk getelegrafeer dat die mark oorlaai is. As hulle hulle vee nie verniet wil laat weggee nie, moet hulle asseblief ophou met stuur.
 
Die telegramme skrik die boere af. Binne ‘n week is die mark leeg, en eers as hy dolleeg is en die mense nie meer weet waar om ‘n stukkie vleis te kry nie, dan slaan die Johannesburgers hulle slag met die boere se vee wat hulle die week vantevore opgekoop het.
 
Ek het die knoeiery gelukkig gou agtergekom en elke slag wat hulle getelegrafeer het, het ek net die teenoorgestelde gedoen: teruggehou as hulle sê ek moet laai en dadelik trokke bestel as hulle sê ek moenie laai nie.
 
Op dié manier het ek goed geld gemaak totdat die regering ingegryp het om die mark kastig te kontroleer. Nou stuur ek nie meer Johannesburg toe nie. As die regering eers self begin knoei, is daar geen kans meer vir ‘n man wat nie aan die krip staan nie.
 
Tog is Johannesburg ons heel beste veemark. Een van die beste slae wat ek in my lewe geslaan het, was toe ek en Augus die tweeduisend mofhamels so in die reën gelaai het. Dit het daardie week van die Kaap tot in die Sambesi gereën, sommer agt dae aanmekaar, asof iemand al die sluise van die hemelpoorte oopgetrek het en die goed nie weer kon toekry nie.
 
Die sesde dag het ek die volk die skape laat bymekaarsukkel en sommerso in die reën deurstoot stasie toe. Die meeste boere, het ek gereken, sal aan die mooi veld dink wat voorlê en hulle hamels weer ‘n slag wil skeer of wil kans gee om eers hardvet te word; en die klompie wat skuld het en maar moes verkoop, het ek gemeen, sou in alle geval daarteen opsien om skape so in die reën bymekaar te maak net vir die onthalwe van hulle skuldeisers.
 
Die hamels was wel groot, uitgegroeide goed, met ses maande wol en hardvet daarby. Maar aan die twee pond tien stuk te oordeel wat ek vir die spul gekry het, moes die mark dolleeg gewees het toe hulle daar aankom.
 
Jou oorlede oupa het altyd gesê ‘n man moenie stroom-op dwing nie. Maar dit betaal nie altyd om met die stroom saam te gaan nie, veral nie mark toe nie.
 
Party mense spekuleer oneerlik. Hulle koop slagvelle wat reeds klaar gesout is en dan gaan hulle die velle êrens in ‘n dam week en weer oorsout om die goed gewig te gee; of hulle koop wol in die droë dele waar die wol onnatuurlik lig is en klam die wol dan met soutwater in; of hulle koop ‘n spul osse wat southonger is, en as hulle die dag ‘n koper verwag, gooi hulle sout in die waterbakke om die osse hulle bedrieglik dik te laat suip.
 
As jy besigheid wil doen, sê ou Saks, moet jy nie stilsit en wag totdat die ander man na jou toe kom nie. Jy moet jou roer; jy moet opstaan en na hom toe gaan.
 
Vir ‘n agent, of iemand wat iets aan ‘n ander wil afsmeer, kan dit goeie raad wees, maar nie vir ‘n oskoper nie. By veekoop is die verleëklant die verloorkant. Wag liewer totdat die ander man na jou toe kom.
 
As dit die dag nie anders kan nie en jy verplig is om na die ander man te gaan, laat hom tog nie agterkom dat jy ekspres gekom het om sy osse te koop nie. Praat liewer van die baie beesplase wat om hom lê, en vra of hy nie weet of die bure beeste het om te verkoop nie, oukoeie miskien of tollies of selfs osse.
 
As jy hom eers so ver het dat hy sê dat hy osse het om te verkoop, is jou kans om hulle vir ‘n redelike prys te kry beter as wat dit sou gewees het as jy hom eers moes gevra het of hy nie osse het om aan jou te verkoop nie.
 
Probeer alle dinge en behou dié wat betaal, is vir die spekulateur ‘n goeie leuse. Ossevetmaak betaal, daarby gesê as jy veld het en ‘n os ken.
 
Trekosse betaal as jy Maart, April koop wanneer die Vrystaters hulle lande klaar gebraak het en begin bang word vir die winter wat voorlê. Dan verkoop jy weer Augustus, September as dit gereën het en die kêrels rondja om hulle ploegspanne aan te vul.
 
Tollies-koop betaal. Daar is sommer baie dinge wat ‘n man kan probeer. Maar jy moet kennis hê en veld hê en geld hê en, indien moontlik, ‘n goeie agterdeur, ‘n slaghuis of so iets op die dorp, ingeval jy eendag vasbrand.
 
‘n Spekulateur moet die land ken, diere ken en mense ken. Hy moet weet wat ‘n skaap weeg, wat ‘n vark weeg, ‘n bok, ‘n bees. Nie sommerso naasteby wat die ding weeg nie. Hy moet sekuur weet; weet wat die ding op sy vier pote weeg en wat hy aan die haak sal weeg.
 
Hy moet ondervinding hê. ‘n Karooveld-dier en ‘n grasveld-dier, hoewel ewe groot en ewe vet, slag lank nie dieselfde gewig nie. ‘n Hardvette verloor minder aan gewig op ‘n treinreis as ‘n half-vette, ‘n oue minder as ‘n jonge.
 
‘n Spekulateur moet die wêreld baie goed ken. Hy moet weet of daar Augustus, September nog gras sal wees en of die boere nie maar verplig sal wees om hulle slagvee mark toe te stoot nie. Hy moet weet of die karoodele ‘n goeie winter gehad het; of Betsjoeanaland en Suid-Wes sal kan deurhou November se kant toe.
 
Hy moet weet wat om te koop, waar om te koop, wanneer om te koop.
 
Spekuleer is ‘n kuns. In hierdie ou wêreld waar die laaste agent vir die veekoper op loer lê en waar die laaste boer vir hom skrikkerig is, vra dit ‘n pure man om ietsie op ‘n ander man se vee te maak.
 
Dis nog vreeslik droog hier by ons. Sakkie Sandlaagte het al met sy beeste getrek. Hy het glo Vryburg toe gelaai. Ou Piet bly nog sit. Selfs die ou se gusbeeste, hoor ek, staan al die laaste een op stal. Jou vader het ook maar lusern van Visrivier-stasie laat kom. Dis die eerste keer in my lewe dat so ‘n skande my oorkom. Maar selfs ‘n Afrikanerkoei kan nie sonder voer klaarkom as sy so in die droogte kalwe nie.
 
Lees volgende Saterdag nog ‘n brief aan Jannie.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0