Aan Jannie: Pasop vir die bank
Jannie Steyn se gryse ou vader stuur nog ‘n brief aan sy seun op universiteit. Die boek, Aan Jannie, is in die veertigerjare van die vorige eeu deur GC en SB Hobson geskryf, maar die waarhede daarin geld steeds. Lees elke Saterdag nog ‘n brief aan Jannie in Oppiestoep.
Aan Jannie
Ek het laas oor spekuleer aangevoor en toe jou ma die middag met Sakkie-hulle van die dorp af terugkom, wou sy weet waarom ek my seun so in die versoeking bring. Maar jou ma verstaan nie die geldkant van boerdery nie. ‘n Boer is maar half ‘n spekulant en wanneer jy eendag hier boer, sal jy tog maar spekuleer al sou dit ook van die bose wees.
Spekuleer is maar baie soos drank-gebruik. Dis ‘n kwaal, maar vir die man wat weet om op te hou, steek daar nie eintlik veel kwaad in nie. Spekuleer lyk vir my nogal minder onverstandig, want met drank-gebruik bly dit uitgee en arm word, terwyl as jy spekuleer, daar altyd ‘n kans is dat jy ‘n ietsie kan maak.
Om te spekuleer, het ‘n man verstand nodig en geld nodig. As die geld ontbreek, kan jy miskien ‘n plan maak. Maar as die verstand ontbreek, is daar niks aan te doen nie, want ‘n man wat ‘n dier nie ken nie en die mark en die mensdom nie ken nie, spekuleer hom net arm.
Party kêrels spekuleer met die bank se geld, wat uiters gevaarlik is. As jy by die bank aan tafel sit, moet jy sommer ‘n lang lepel hê.
Die bank is snaaks. As ‘n man die bank nie te veel skuld nie, sê nou maar so drie-, vierhonderd pond, en hy betaal nie as die betaaldag daar is nie, vat die bank hom sommer kort. So ‘n man word gedagvaar en as hy dan nog nie betaal nie, word hy sonder meer uitverkoop.
Maar as ‘n man die dag ‘n tamaai hoop geld skuld, sommer tien-, twaalfduisend pond meer as wat hy op die oomblik kan betaal, dan werk die bank mooi met hom. As die bestuurder so ‘n man op straat ontmoet, haal hy vir hom hoed af; ek óók, want dit vra ‘n pure man om so diep in die bank se ribbes te klim.
As jy van plan is om te spekuleer en ‘n bietjie geld by die bank wil lospleit, baat dit jou maar min om ‘n nuwe hoed te koop of jou blink aan te trek. Die bestuurder takseer ‘n man aan sy sak; nie aan sy hoed of sy stewels nie.
Nog minder betaal dit om by die bank in ‘n nuwe motor aangery te kom. Daar word jou eenvoudig ‘n stuk papier voorgestoot, en nie te lank nie of die bestuurder weet dat daardie blink motor van jou nie betaal is nie; en vir ‘n man wat reeds kort van geld is en dan nog kans sien om ‘n motor aan te skaf, is bankbestuurders maar lugtig.
Om te gaan kla en vertel hoe swaaar jy kry, hoe vrot jou plaas is, hoe jou skape laas gevrek het, betaal glad nie. Hou maar die blink kant bo as jy geld wil hê. Jy soek verniet troos of medelye by ‘n bankbestuurder. Jou swaarkry skrik hom net af.
Die mense wat in die bank werk, is suinig. Hulle word ook ellendig swak betaal, en ek het nog altyd gemeen dat dit daarom is dat hulle ‘n trippens soveel maal omkeer voordat hulle hom uitgee.
Maar ou Saks op die dorp lê die ding anders uit. Hy sê die kêrels wat in die bank werk verstaan die waarde van geld. Oor ‘n jaar word honderd pond mos honderd-en-vyf; oor twee jaar honderd-en-tien, na twintig jaar glad tweehonderd pond. As ‘n kêrel wat in die bank werk dan honderd pond uitgee, voel dit sommer vir hom of dit tweehonderd kan wees.
In die Groot Oorlog toe ons van die goudstandaard afgestap het, het die banke skielik vrygewig geword. Wie ook by die bestuurder aangeklop het, het gekry. Daarby gesê as hy grond gehad het om aan die bank te verpand.
Die laaste ou boertjie het naderhand met ‘n tjekboek in die sak rondgestap. Geld was volop soos bossies; osse so duur soos die duiwel.
Toe ons weer terugkeer na die goudstandaard, het ek die bank mooi tweeduisend van daardie goedkoop pond wat hulle onder ons uitgedeel het, geskuld. Maar geld het meteens skaars geword, sommer baie skaars, want die bank wou geen pennie meer voorskiet nie, hoewel die laaste boer geld moes hê om die verbande wat die bank intussen opgesê het, af te betaal.
Almal moes verkoop en daar was niemand om te koop nie.
My veld was goed en glad nie oorlaai nie. Ek het by die bank gaan mooipraat. Die tweehonderd osse wat ek met hulle geld gekoop het, sou oor ses maande spekvet wees. As hulle my maar net wou uitstel gee, sou ek nie so vreeslik op die osse verloor nie.
Maar verniet. Die bank het al klaar bestuurders omgeruil soos hulle altyd doen as hulle die boere wil opskroef. Ek moes maar daardie tweehonderd osse gaan verkoop en nog tweehonderd van my eie boonop, mooi vierhonderd osse, om die tweehonderd wat ek met die bank se geld gekoop het, te betaal.
Die volgende jaar staan die rooigras in die saad in my leë vetmaak-kampe. Groot, uitgegroeide osse was vir twee, drie pond stuk te koop. Toe skep ek weer moed en met die hoed in die hand is ek bank toe.
Die sekuriteit wat ek hulle aangebied het was goed; om die waarheid te sê, beter as toe hulle my die tweeduisend pond voorgeskiet het, want ek het intussen daardie stuk grond anderkant Oskuil aangekoop.
Ek het mooigepraat. Ek het gepleit en probeer verduidelik hoeveel ek reeds in die verlede vir die bank verdien het. Maar verniet. Hulle wou my nie eens met vyfhonderd pond help nie. Hulle kon eenvoudig nie.
Ek was toe nog maar dom; ek het hulle geglo. Vandag weet ek van beter. Hulle was glad nie arm nie. Hulle het sommer baie geld gehad. Hulle wou die geld maar net nie weer in omloop bring nie, want as hulle dit in omoop gebring het, sou geld weer volop geword het en gevolglik weer goedkoop.
Hulle slag het hulle klaar geslaan: goedkoop ponde uitgegee, duur ponde teruggeëis en sodoende hulle kapitaal verdubbel. As hulle my vyfhonderd van daardie duur ponde voorgehaak het, sou hulle gevaar geloop het om in hulle eie strik gevang te word. Ek kon hulle dalk later met vyfhonderd goedkoop ponde terugbetaal.
Goedkoop ponde was goed genoeg om aan ‘n ander uit te deel; goed vir die boer maar nie vir die bank nie.
Die bank is, om die waarheid te sê, maar ‘n pandjiesbaas op groot skaal. Die bestuurder is net gevaarliker as die pandjiesbaas. Die een is met jou sakhorlosie tevrede, die ander wil jou plaas insluk.
Lees volgende Saterdag nog ‘n brief aan Jannie.