Aan Jannie: Op papier boer
Aan Jannie
Baie dankie vir die brief, maar moet jou tog nie van die menere wat aan die krip staan laat vertel dat dit net goeie goed is wat aan ‘n krip staan nie.
Hier by my op die plaas staan net tingerige goed op stal, goed wat te swak is om in die veld klaar te kom en wat gevaar loop om dood te gaan as ek hulle nie betyds voer nie. As ek sulke goed die dag so ver het dat hulle weer na iets lyk, laat ek hulle dadelik aanja vendusie toe.
Daardie meesters van jou laat my aan oorlede Stoffel dink, Stukkende Stoffel soos hulle hom in die wandel genoem het, omdat die ou so kon suip.
Stoffel het bulle geteel. Maar sy koeie het nie elke jaar gekalwe nie en Stoffel het gewoonlik meer bulkopers gehad as bulle. Dan ry die ou eenvoudig onder die bure rond en koop sommer enige afrikanerige bulkalwers wat hy teëkom, as die goed maar net mooi van lyf is en rooi daarby.
Dié staan dan by hom op stal; word blink geroskam en vet gevoer; kry ringe deur die neuse. Dan kom die mense van wie weet hoe ver om die danige bulle te koop. Hulle vind glo later eers uit, as hulle die bulle se kalwers die dag sien, dat aan-die-krip-staan nie van ‘n prulbees ‘n opregte maak nie.
Op-stal-boer betaal miskien as ‘n man se plaas naby ‘n groot dorp geleë is waar hy melk kan verkoop, anders nie. Piet Engels melk daar by die honderd koeie. Die goed staan die laaste een op stal. Waarom die man ‘n tamaai groot plaas aanhou as hy so op sy werf wil boer, weet ek nie.
Ou Piet se politiek is verkeerd, maar dis nog nie te sê dat hy ‘n swak boer is nie. Daar is om die waarheid te sê, nie ‘n lui haar op die ou se kop nie. Daardie koeistalle van hom, sy pakkamers en melkkamers, kalwerhokke, bakke en drukgange, sy yskaste en al die ander gedoente wat by so ‘n boerdery hoort, is so reg en agtermekaar as maar kan kom.
Hy boer net vir my so vreeslik agterstevoor. Sy kalwers suip mos nie aan die koeie soos die Voorsienigheid dit wil hê nie. Hulle suip glad nie. Die melk word vir hulle in emmers aangedra; eers net biesmelk, dan heelmelk, dan heelmelk en afgeroomde melk om die helfte; naderhand net afgeroomde melk, sommer twee, drie gellings op ‘n slag elke kalfie apart, elke kalfie na sy ouderdom en grootte. Twee opgeskote klonkies bly aanmekaar draf met die emmers melk om voor te bly, en ou Piet meet en gooi dat die sweet so tap.
Die koeie word sonder kalwers gemelk, dit nogal twee keer op ‘n dag, ‘n man kan maar sê vier keer, want na die melkery dam die volk die koeie weer ‘n slag by om die paar druppeltjies roommelk wat intussen gesak het, uit te trek.
Die koeie word gevoer: met gras, klawer, mieliegruis, grondboontjiemeel, bloedmeel en die Joos weet wat alles. Dit lyk, om die waarheid te sê, daar by die ou om die huis, meer na die agterplaas van ‘n dorpswinkel as na ‘n boer se werf.
As ou Piet goed geld sou maak, sou jou pa daar niks op teë hê dat hy so onkoste maak en soveel onnodige moeite doen nie. Volgens sy roombriefies wat hy my self gewys het, haal hy gemiddeld elf pond stuk per jaar uit daardie koeie van hom, wat glad nie sleg is nie. Maar moenie praat van die rekenings vir beesvoer wat by die ou ophoop of die spul geld wat hy elke maand aan sy volk uitbetaal nie.
Volgens ou Piet se eie boeke kos ‘n koei hom mooi nege pond per jaar om aan te hou. Twee pond wins op ‘n koei lyk nie sleg nie. Maar op sy honderd koeie beteken dit maar tweehonderd pond, en ou Piet met sy groot familie en daardie meisiekind van hom wat hy op skool het, het elke jaar minstens seshonderd pond nodig om ordentlik te kan lewe.
Waarom nie driehonderd koeie aanhou nie, sal daardie meesters van jou wil weet. Driehonderd koeie sal mos seshonderd pond inbring. Op papier, ja. Maar op ‘n plaas trap en verdring so ‘n trop bees mekaar dat hulle naderhand glad geen melk het nie.
Melkverkoop kan nog gaan. Maar van roomverkoop het ek nog maar een boer sien ryk word, oorlede Dirk Viljoen. Dik Dirk soos ons hom in die wandel genoem het. Dirk het sy verstand gebruik. Hy het eers met Frieskoeie begin, maar toe hy sien dat die goed om die huis kom staan om kos te vra as dit droog word, sit hy Afrikanerbulle onder; net vir drie jaar, want toe hy gewaar die melk word min, sit hy weer Friese onder. En so het Dirk aangegaan, sy span bulle al om die drie jaar omgeruil.
By Dik Dirk het niks op stal gestaan nie. As die veld goed is, melk hy. As die veld sleg is, ja hy die koeie met kalwers en al veld toe. Hy het van geen voerrekenings geweet nie. Sy roomtjek was pure profyt.
Dirk het net eenmaal per dag gemelk, heeldagdeur. Hy het nie daarvan gehou om sy goed onnodig te laat rondja nie. Die koeie het self klompies-klompies kraal toe gekom en elke klompie wat kom, melk die volk.
Volgens daardie landboukêrels het Dik Dirk swak geboer, baie swak. Maar hy het vorentoe geboer.
Jy sal nog uitvind daar is baie mense in hierdie ou wêreld wat sommer uitstekend op papier kan boer, maar as hulle die dag op ‘n plaas kom, gooi die plaas hulle af.
Ek dink nou aan Klein Karel Kafferskraal. Die vent het heeldag hier by my op die stoep kom sit en koffie drink en my probeer reghelp. ‘n Man moenie sy plaas oorlaai nie, het hy vermaan. Nie altyd uit dieselfde kudde teel nie; nie aan melk dink as hy met Afrikaners boer nie. Die Afrikaner is mos ‘n vleisras. ‘n Man moet ‘n drukgang op sy plaas hê; sy beeste elke week dip; elke dag beenmeel ingee.
Aan daardie vent se praat te oordeel, wat hy sommer ‘n baasboer. Maar hy was maar vyf jaar op Kafferskraal toe lui die klokkie. Toe ek laas van hom hoor, was hy agent vir ‘n lewensassuransiemaatskappy en moes sy vroutjie hoenders aanhou om haar winkelrekenings te betaal.
Dis alweer droog hier by ons, sommer lelik droog. Oskuil se dam het nog net modderwatertjies. Twee van die ou-koeie wat nou die dag daar vasgesit het, was so swak toe die volk hulle uitkry, dat ek die goed maar moes laat keelafsny.