Categories: NewsPublished On: 13th July 2011

Aan Jannie: Koop en verkoop

By 7 min read
1488 words
Nog ‘n brief van ‘n ou boer op sy plaas aan sy seun, Jannie, op universiteit:
 
Aan Jannie
 
Met die eerste geleentheid pos toe sal jou ma die kam en sakspieëltjie stuur. Aangesien die ander hulle hare so olie smeer, moet jy dit glo ook maar doen!
 
Wat het die wêreld tog nie verander nie! As ‘n mansmens in my dae met ‘n spieël in die sak sou rondgestap het en die ding af en toe sou uitgehaal het om te kyk of sy hare nog reglê, sou ons hom vir stapelgek aangesien het.
 
Die kiekie wat jy ons gestuur het van julle klompie eerstejaar-studente lyk nogal aardig met die groot vierkantige kepse en die lang swart togas. Jou ma is net in haar skik daarmee. Sy sê die rye, rye wit boordjies vertoon vir haar pragtig.
 
Vir my, egter, laat hierdie aantrek van julle hond se gedagte kry. Dit laat my alteveel aan ‘n pou dink. Die ding se vere is pragtig, maar as ‘n man hom die dag pluk, is die ou stukkie vleis maar klein.
 
Maar hoor, vier pond tien sjielings is darem duur vir so ‘n ou monderinkie! Dis seker maar weer ‘n soort saamwerk, die professore wat die dra van die goed verpligtend maak en saamwerk met die winkelier wat hulle aanstel om julle daarvan te voorsien, wat dan vir sy ou bietjie lappiesgoed vra wat hy wil. As die een hand die ander was, word albei mos skoon.
 
Ek het ook al saamgewerk, op vendusies, natuurlik. Dis mos onnosel van veekopers om mekaar onnodig op te ja. Maar die fynste saamwerk wat ek met al my rondry teëgekom het, was dié van drie Bolandse veekopers wat ek eenslag op Kenhardt raakgery het:
 
Die een het voor gery en waar hy ook kom, bied hy die boere sestien sjielings stuk vir hulle slaghamels aan. Vir die pond of wat dit ook mag wees wat die boer vra, sien hy glad nie kans nie. Om die waarheid te sê, sestien sjielings is al te hoog en hy sou nie soveel kon gegee het nie, as sy firma nie nog van die ou kontrakte gehad het nie.
 
Ja, hy weet die skape weeg swaar. Hy het self laasjaar tot twee-en-twintig en ‘n sikspens vir sulke skape betaal. Maar vanjaar is nie laasjaar nie. Vanjaar is ‘n reënjaar. Vanjaar sit die boere oral met vet slagskape opgeskeep.
 
Die volgende dag kom sy maat aangery. Dié vang onder die skape, voel-voel aan die sterte en erken rondborstig dat die goed glad nie sleg is nie. Die mark is wel laag en sal waarskynlik nog laer daal, maar vir sulke groot, uitgegroeide hamels kan hy darem vyftien sjielings gee.
 
Sestien sjielings die dag vantevore geweier? Die man wat daarvoor kans gesien het, het seker nie geweet dat die mark aan die daal is nie of anders het sy firma nog van die ou kontrakte gehad. Hy is jammer, maar vyftien sjielings is die allerhoogste wat hy kan betaal.
 
Oor ‘n paar dae daag nommer drie op. Slagskape is wel volop, sê hy, maar as Meneer van Tonder hamels het wat hy graag wil verkoop, gee hy nie om om na hulle te gaan kyk nie…
 
Ja, die hamels is goed van vleis, sommer deur die bank vet soos in al die omliggende distrikte. Vir sulke skape kan hy darem veertien sjielings gee…
 
Hy het gehoor dat daar kopers in die distrik is wat selfs laasweek nog sestien sjielings kon betaal, maar dis mense wat nog van die ou kontrakte het. Hy wat nie kontrakte het nie, moet ongelukkig maar met die mark saamgaan.
 
As nommer twee en nommer drie die boer dan klaar ‘n gat in die kop gepraat het, daag nommer een weer “toevallig” op en koop die hamels maklik vir die sestien sjielings wat die boer die week vatevore geweier het.
 
Om ‘n ding te koop is ‘n kuns en tog is dit makliker om te koop as om te verkoop. Is dit miskien trekosse wat jy wil hê? Daar is sommer baie spanne te koop. Die laaste vooros wat hulle jou aanbied, is ‘n uithaler-vooros; die laaste agteros so geskik en sterk as maar kan kom.
 
Maar as jy die dag wil verkoop, is dit ‘n ander saak. Dan is jou osse òf te jonk òf te oud of te deurmekaar; te mofagtig of te kafferbeesagtig; te stadig, te onvas. As die paar kopers met jou klaar het, is jy self verwonderd dat jy so lank met sulke slegte goed klaargekom het.
 
As jy die dag verleë is en na die ander man toe gaan om iets aan hom te probeer verkoop of iets van hom te probeer koop, slaan hy maklik sy slag. Maar as hy die dag verleë is en na jou toe kom, is dit weer jou kans.
 
Koop en verkoop is, om die waarheid te sê, maar een ding. Dit hang net daarvan af van wie se kant af jy die transaksie beskou. Maar of dit nou die koopkant is of die verkoopkant, die verleëkant is die verloorkant.
 
Die meeste boere koop maar, soos hulle vrouens, agter die mode aan. Eers wou almal volstruise hê. Die beeste wat niemand wou hê nie, is vir ‘n appel en ‘n ei verkoop om geld in die hande te kry om volstruise te koop. Die kêrels was glad mal. Hulle het naderhand tot ‘n honderd pond stuk vir broeivoëls gegee; en net toe die voëls op hulle hoogste is, toe val die vere.
 
Toe wou almal weer beeste hê om die lusern af te vreet wat hulle vir die voëls gesaai het. Goeie melkkoeie het peperduur geword. Ou Piet Engels het ‘n klompie korthoringversies wat hy self twee jaar vantevore teen agt pond verkoop het, teen vier-en-twintig pond stuk gaan terugkoop; en ou Piet was nogal gelukkig, want hy was een van die weinige wat sy volstruise nie op skuld gekoop het nie.
 
Toe word die bokwol duur en toe verkoop die boere die skape waar daar geen aanvraag voor was nie, om bokke te koop. Maar nie lank nie, of die skaapwol het duur geword en die bokwol goedkoop en toe verkoop die kêrels die bokke goedkoop om hulle eie skape, wat intussen duur geword het, terug te koop.
 
Vir Friesbeeste wat ‘n paar jaar gelede so in die mode was, is daar vandag min aanvraag. Die goed se melk is nou kastig te waterig. Nou wil die boere almal Jersies hê.
 
So saal die kêrels van die een soort boerdery op die ander oor elke slag wat hulle oorsaal, verkoop hulle goedkoop en koop hulle duur.
 
Ek wil nie te kenne gee dat ek die wysheid in pag het nie, maar ek het uitgevind dat ‘n man die ding wat duur is moet verkoop; nie koop nie. Vandag is dit tyd om Jersies te verkoop en Friese te koop, nie andersom nie.
 
Ek het al geld verloor deur te gou te verkoop en tog het ek meer verloor deur nie te verkoop toe die verkooptyd daar was nie. Ek dink veral aan die klompie Afrikanerkoeie wat Dik Dirk dié slag van my wou hê. Dit was die jaar na die groot oorlog. Geld was volop soos bossies; die mense was koop-mal.
 
Dik Dirk het by my kom neul om hom tien koeie onder my Afrikaners te laat uitsoek. Hy het my veertig pond stuk aanpresenteer; toe vyf-en-veertig pond; naderhand glad vyftig pond stuk. Verbeel jou! Vyfhonderd pond kontant vir ‘n klompie goed wat maar sestig pond werd is!
 
Dit was dwaas van my om te weier. Maar die man wou uitsoek en ‘n boer kry dit nie maklik oor sy hart om onder sy aanteelgoed te laat uitsoek nie.
 
Dik Dirk sou hom darem lelik vasgeloop het. ‘n Man moenie jou bank leeg koop om jou plaas vol te koop nie. ‘n Man moet jou plaas vol boer.
 
Dis stil vandag hier op die stoep. Jou ma is aan die bak, en Augus het gisteraand kom vra of hy nie maar sy donkiekarretjie kan inspan en op Mieliebult by ou Joors se volk gaan kuier nie. Dit was vir my vanmôre half snaaks die die skepsel nie kom verneem hoe dit met sy Oubaas gaan nie.
 
(Aan Jannie is in die 1940’s uitgegee deur JL van Schaik, Pretoria.)
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0