Categories: NewsPublished On: 30th July 2011

Aan Jannie: Jakkals en kat

By 6 min read
Nog ‘n brief aan Jannie op universiteit vanaf sy bejaarde pa op die plaas vanuit die boek, Aan Jannie, deur GC en SB Hobson:
 
Aan Jannie
 
In jou brief aan jou ma lees ek dat van al die vakke wat hulle jou daar op universiteit gee, jy tog die meeste van landbou en veeteelt hou. Heel natuurlik ook. Maar dit verbaas my om op my oudag te hoor dat ‘n mens op skool kan leer boer en dat my seun kursusse in die boerdery moet loop waarvoor sy ou vader nogal moet betaal. Ek het jou mos nie universiteit toe gestuur om te leer boer nie. Dit kan jy beter en goedkoper hier by my op die plaas doen.
 
Menere wat aan die krip staan en wat nog nooit self gewerk of geboer of hulle eie geld verdien het nie, dié wil nou kwansuis ‘n ander leer boer!
 
Jou ma sê ek moet my nie inmeng met sake wat ek nie verstaan nie. Maar ek het al ‘n paar slae gaan kyk wat op ‘n landbouskool aangaan. Dit was wel een van dié wat die ou regering gestig het, maar dit gaan glo nie veel beter op dié van ons eie mense nie.
 
Wie ook die skuld moet dra, dit kan ek jou verseker, as jou vader so sou geboer het soos hulle daar boer met daardie trop volk en daardie duur masjinerie, sou ek en jou ma vandag op ons oudag bywoners gewees het en sou jy ‘n klompie deurmekaar skape opgepas het.
 
‘n Man wat regtig boer, ‘n bona fide boer, soos die ou Rooies sê, boer mos nie om geld uit te gee nie. ‘n Boer boer om geld te maak, wat nogal ‘n kuns is, want as ‘n man ‘n ding klaar geproduseer het, moet hy dit nog voordelig van die hand sit, en daar lê die knoop.
 
Ou Joors Smit Mieliebult is ‘n produseerder honderd. Die mense praat sleg van die ou, want hy is maar kortgebakerd en gou op sy perdjie. Maar ou Joors verstaan om met ‘n vark te boer en die ding vet te kry.
 
Ek was nog nooit eintlik ‘n varkkoper nie, maar ou Joors het so min van die verkoopkant van sy varkboerdery geweet dat hy my in die versoeking gebring het.
 
Toe ek die dag op Mieliebult aanry, staan daar mooi een-en-twintig spekvarke by die ou op hok, so reg soos spekvarke maar kan kom, net die regte gewig, sommer nommer een prima spekvarke.
 
Hoe dit gekom het, weet ek nie. Miskien was dit maar die spekuleergees wat die boer eie is, wat die gedagte by my laat ontstaan het. Miskien was dit die een-en-twintig, want as ‘n man een-en-twintig varke in ‘n trok laai, betaal hy mos maar skaapprys en kry hy ‘n tamaai groot vark by die slagpale op Johannesburg vir sowat drie sjielings gelewer. Hoe dit ook gebeur het, toe ek my kom kry, vra ek ou Joors wat hy vir die varke wil hê.
 
Prima slagvarke was dié tyd skaars; pryse was hoog, agt oulap per pond lewende gewig volgens die markberig wat ek die aand vantevore van Johannesburg ontvang het. 
 
Vir daardie varke wat die ou vir twee pond tien aan my verkoop het, het my agent ‘n paar dae later by die vyf pond gekry.
 
Ou Joors het nege maande gespook en gespartel om die goed groot te kry en nadat hy al daardie moeite gedoen het, laat hy ‘n ander met die profyt heengaan.
 
Tog is dit beter vir ‘n boer om sy vee effens te laag te skat as om die goed te hoog te skat. As hy die dag koop, betaal hy nie te veel nie, en as hy die dag wil verkoop, kry hy ‘n koper.
 
Onthou jy nog daardie twintig ou-koeie wat Lang Jan Lewies Loskop dié slag op die vendusie gehad het? Die goed was pragtig vet; swaar ook, sommer eersteklas slagkoeie. Hulle was, soos ek die dag gesê het, miskien die tien pond werd wat Lang Jan vir hulle wou hê. Maar watter koper sal nou die volle waarde voluit betaal? So ‘n vent koop mos nie vir sy gesondheid nie.
 
Hulle het Lang Jan die dag daar op die vendusie nege pond vyf sjielings vir die beeste aanpresenteer; toe nege pond tien sjielings; naderhand glad nege pond vyftien sjielings vir die koeie, voor die voet soos hulle loop. Maar verkoop, moenie glo nie. Hy wat Lang Jan Lewies is, laat hom nie van ‘n veekoper ‘n gat in die kop praat nie.
 
Op die volgende vendusie, (die wêreld het intussen begin droog word en die boere het die mark oorlaai), op die volgende vendusie bië die slagters maar agt pond op die koeie. Lang Jan moes verkoop het. Jou eerste verlies is tog maar jou ligste. Maar nee, hy laat die goed terugja plaas toe. Dis mos goeie ou-goed. Hy sal hulle weer ‘n slag laat kalwe. Dit doen ‘n boer gewoonlik as hy met ou-koeie opgeskeep sit. Die ou nasie wil maar nie leer dat dit beter betaal om die vet ding te verkoop as om haar met kalf en al weg te gee nie.
 
Laas jaar het ou Lang Jan die ou-koeie weer op die vendusie gehad. Daardie mooi, groot rooiskilder wat ek jou die dag gewys het, het makeer. Een van die drie rooiblesse was ook nie by nie.
 
Die goed was lelik maer gesuip van die kalwers. Jy weet mos hoe sleg dit met ‘n ou-koei in die winter kan gaan as sy ‘n groot kalf heeldag aan haar laat pomp.
 
Vir die koeie kry Lang Jan toe twee pond stuk en drie pond stuk vir die kalwers.
 
Daardie landbou- en veeteeltbesigheid daar op universiteit kan jy gerus maar uitskakel. ‘n Beesboer hoef mos nie van kodlingmot en vrotpootjie en ertappelsiektes en sulke goeters te weet nie. ‘n Man bring dit verder in hierdie ou wêreld as jy jou op een ding toelê en daardie een ding goed verstaan.
 
Oorlede vader het altyd vertel van die kat en die jakkals wat so vir die honde moes vlug. Die kat het maar een plan gehad. Sy maat het vir hom uitgelag. Hy wat jakkals is, het baie planne gehad.
 
Maar daar was windhonde by. Die goed kon hard hardloop. En daar was jakkalshonde by.
 
Die jakkals het draaie gegooi. Hy het op sy spoor teruggehardloop, deur die water gehardloop; deur ‘n trop skape. Hy het van die een groot klip na die ander gespring; sy planne die laaste een uitgehaal. Maar verniet. Op die ou end het Ta se turf gesit.
 
Met die boer gaan dit maar baie soos dit met die jakkals en die kat gegaan het. As hy die een soort boerdery goed verstaan, sommer baie goed, hou hy kop bo water.
 
Maar as hy so ietsie van al die soorte weet, nou ja, op die ou end vang die honde hom.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0