Categories: Artikels, WielePublished On: 19th April 2022

2022 HYUNDAI KONA N EN I30N: Met “N” = ADRENALIEN

By 5 min read
1038 words

2022 Hyundai Kona N Wheels and Calipers

Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive

Hyundai N is relatief nuut in die wêreld van verrigting motors. Die eerste i30N is in 2016/17 internasionaal bekendgestel en het sy plaaslike buiging in 2020 gemaak.

Dit was Suid-Afrikaners se eerste kennismaking met die Koreaanse vervaardiger se poging om die domain van blitsbukse te betree. Op daardie stadium het motorsport liefhebbers en veral diesulkes wie die opwindende WRC wêreldtydren reeks volg, verbaas moes toekyk hoe die Hyundai N-sport tydrenspan sy eerste wêreldtydren kampioenskaptitel inpalm – en dit met ‘n i30 nogal!

Dit was die perfekte kleedrepetisie om kort daarna die eerste 130N blitsbuks plaaslikbekend te stel.

Gebore uit die “N”-afdeling onder leierskap van die voormalige BMW M-ghoeroe Albert Bierman en gebou in die Koreaanse vervaardiger se aanleg in die Tseggiese Republiek, is die i30N gebasseer op die gewone i30 luikrug wat voorheen ook in Suid-Afrika beskikbaar was.

So wat en waarvoor staan die “N” -teken dan? “N” is vir Hyundai wat die “M” kenteken vir BMW, RS vir Audi en AMG vir Mercedes is. Dit is insignia  waarmee verrigting gedefinieerword.N” is afgelei van Namyang, die hoofkantoor in Korea waar Hyundai se sport- en verrigtingmotors gebore en ontwikkel word. Die “N” verwys egter ook na die ikoniese Nürburgring renbaan waar Hyundai sy verrigtingmotors deur strawwe toetse sit om hulle te slyp en voor te berei vir kompeterende mededinging.

Ons het  die plaaslike bekendstelling van twee van Hyundai Motors SA se nuutste N-modelle bygewoon – die opgedateerde 2022 i30N asook Hyundai se eerste kompakte verrigtings SUV, die KONA N.

Beide die i30N en die KONA N is sportief en aggressief gestilleer met prominente uitgeboude bakpanele, lugskorte en groot swart sierwiele met spesiale breë laeprofiel sportbande wat spesiaal vir die voertuie vervaardig is. Prominente rooi remknypers benadruk die sportiewe en verrigtingsfilosofie van die “N” kenteken.

Binne is die kajuit ook modern en uiters sportief met klein subtiele verskille in afwerking tussen die KONA en die i30. Elektriese sportsitplekke in leer en alkantara bekleedsel met die “N” insignia prominent, domineer beide kajuite. Die sportstuurwiel kan ook verhit word. Geriefies soos klank- en kommunikasie met behulp van AppleCarPlay en Android Auto is beskikbaar, maar daar is geen sateliet navigasie nie. Danksy slimfone en wifi is die navigasie van jou keuse maklik beskikbaar en kan via die motor se klankstelsel op die infoskerm vertoon word.

Vir die aspirant renjaers is daar ‘n handige funksie wat byvoorbeeld die inligting op die infoskerm vertoon met betrekking tot ondermeer rondtetye, G-kragte, turbodruk asook versnelling en remdruk om maar ‘n paar te noem.

Hyundai se omvattende aktiewe en passiewe veiligheidstelsels is ook in beide hierdie twee verrigtingmodelle teenwoordig en sluit ondermeer standaard stelsels in soos vooraf waarskuwing om moontlike botsings te vermy, blindekol waarskuwing asook ‘n stelsel wat waarsku as jy onbewustelik uit jou baan beweeg. 

Beide hierdie twee modelle is toegerus met Hyundai se 2,0L turbo aangejaagde petrolenjin wat in die eerste weergawe van die i30N bekendgestel is en lewer dieselfde krag as voorheen, naamlik 206kW (teen 6000rpm) en 392Nm (beskikbaar vanaf 4700prpm). Hierdie verrigting word egter nou teen laer enjinkompressie, maar effe hoër turbodruk bereik ten einde betroubaarheid en ‘n langer probleemvrye leeftyd te verseker sonder om kraglewering in te boet.

Krag word na die voorwiele gestuur met behulp van Hyundai se eie 8-spoed dubbelkoppelaar ratkas. Van die ratkas gepraat – hierdie DCT is ‘n juweel en Hyundai is stadig besig om die standaard te stel vir dubbelkoppelaar outomatiese ratkaste in hul onderskeie segmente.

Verrigting in beide modelle is soos verwag, uitstekend. Die i30N neem slegs 5,4 sekondes om die 0-100kpu lopie af te blits met die groter en swaarder KONA N wat ‘n uitstekende 5,5 sekondes behaal van 0-100kpu.

Beide modelle is toegerus met ‘n verrigtingskakelaar wat Hyundai die “Grin Shift” (NGS) gedoop het. Die oomblik as die skakelaar geaktiveer word tydens piek verrigting, lewer die enjin ‘n ekstra 7kW vir 20 sekondes lank, terwyl die uitlaatstelsel harder “Crack, rattle and pop” en die ratkas vinniger oorskakel.

Tydens die bekendstelling vroeg in April vanjaar, kon ons met beide modelle rondom die Killarney Internasionale renbaan speel. Dit was duidelik dat die N divisie hulle toorkuns in beide die KONA N en die i30N behoorlik bemeester het. Wanneer daar baie krag na die voorwiele gestuur word is wringstuur gewoonlik onafwendbaar, veral wanneer daar so vinnig as moontlik deur skerp draaie op ‘n renbaan gejaag word.  Beide die modelle het dinamies presteer met uiters hoë vlakke van greep en stabiliteit in hoëspoed draaie. 

Later op die oop pad en deur ‘n reëndeurdrenkte Franschhoekpas se uitdagende draaie het uitstekende balans tydens harde remming opgeval. Beide hierdie voertuie is rasegte blitsbukse met die i30N die meer gefokusde van die twee. Met ‘n hoër sitplekposisie en swaartepunt was die KONA N die eerste een om die agterkant los te laat in draaie, maar met genoeg krag en uitstekende greep van die voorwiele was dit maklik om weer in lyn te kom, soms ook danksy die stabiliteitsbeheerstelsel wanneer ons gekies het om dit aan te skakel.

Dit is te verwagte dat wanneer jy fokus op goeie paddinamika met sportmotoreienskappe, ritkwaliteit effe agterweë gelaat word. Tog bied beide modelle ritmodus-opsies waar gekies kan word tussen “Eco”, “Comfort” of “Sport” met “Comfort” wat ‘n meer gemaklike ritervaring verseker vir wanneer daar elke dag gery moet word. Vir die doel sal ek die KONA N verkies.

Die 2022 Hyundai i30N kan na dese as ‘n rasegte blitsbuks gereken word wat op gelyke voet met ander  soortgelyke motors in sy segment kompeteer. Vir daai doel is my keuse die Hyundai. Die 130N is meer as bloot vining van die merk af. Dit bied uitstekende hantering en dinamika, is omvattend toegerus en dit roer die emosies en streel die hart – iets wat min blitsbukse deesdae nog doen.

Pryse Hyundai i30N  Kona N

Hyundai bied standaard met elke model ‘n 5 jaar/150 000 km vervaardigers waarborg, asook ‘n bykomende 2 jaar/50 000 km waarborg op die aandrywingstelsel. Ook ingesluit by die prys is ‘n 7 jaar padbystanddiens en ‘n 5 jaar/75 000 km diensplan.

Hyundai i30N              R749 900

Hyundai KONA N       R749 900

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0