2019 BMW Z4 M40i: Oopdak oopketel lekkerry

2019 BMW Z4 M40i Front side view
Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive
BMW kom al ‘n lang pad met oopdakkers. In die laat vyftigs het die BMW 507 veral die Amerikaners gaande gehad met selfs die Koning van Ruk en Rol wat een gekoop het. Met die ’87 Frankfurt Motorskou verras BMW die motorwêreld met die Z1 konsep, ‘n klein en plat 2-sitplek oopdak sportmotortjie wat befaamdheid verwerf het vir die deure wat halfhoogte oopskuif.
Díe breinkind van dr Ulrich Bez, wie Porsche verlaat het om hom by BMW aan te sluit, was egter veel meer as net vernuwende deure. Die motor was gebou rondom ‘n baie sterk “monocoque” met dertien PVC bakpanele wat maklik kon afgehaal en teruggesit word. Aandrywing was met ‘n 6-silinder enjin uit ‘n BMW 325i en ‘n slim veelskakel agtervering wat later bekend geword het as die “Z”-as.
Toe kom 007 en hy stel die nuwe Z3 aan die wệreld bekend in die “Golden Eye” Bond fliek. Dit help Munchen om meer as 300,000 Z3 modelle wệreldwyd te verkoop.
In 1999 stel BMW die Z8 bekend – ‘n retro-ontwerp deur Henrik Fisker wat terugkyk op die 507. Met ‘n M5 V8 5.0 liter enjin wat deur ‘n 6-spoed ratkas na die agterwiele dryf, was dit ‘n petrolkop se droom. Ook die Z8 het wệreldbekendheid verwerf in ‘n Bond fliek genaamd “The World is not Enough” met ‘n hartseer oomblik toe ‘n nagemaakte Z8-model deur ‘n reuse saag middeldeur gesny word. Net 555 linkerstuur modelle van die Z8 word uiteindelik gebou en die besondere Zet se versamelwaarde word beklemtoon toe een later in Monteray op ‘n Sotheby veiling vir USD400,000 verkoop word.
Tydens die “Bangle”- era se ontwerp-fiasko word die eerste (E85) generasie Z4 by die 2002 Parys Motorskou bekendgestel. Gestileer uit die pen van die Deense ontwerper Anders Warming, volg later ook baie gewilde M-koepee en M-Roadster weergawes in 2006, asook ‘n paar renmotors wat baie suksesvol op die internasionale renbane kompeteer. In 2009 word die E89 modelreeks as die derde generasie Z4 bekend gestel en word ook die eerste “Z” model wat ‘n wegvou hardedak gebruik wat tot gevolg het dat die “Roadster” en Koepee modelle nie meer nodig is nie.

Dit bring ons by die vierdie geslag en nuutste (G29) Z4 wat in 2018 by die Parys Motorskou internasionaal debuteer en onlangs plaaslik bekend gestel is. Die nuwe model is in samewerking met Toyota ontwikkel en dit is interessant dat die nuweling nou weer slegs met ‘n wegvoubare materiaal dak beskikbaar is. Vir BMW-puriste is dit haas ondenkbaar dat Munchen en Tokio kan saamwerk aan die ontwikkeling van beide die nuwe Z4 en Toyota se ikoniese Supra, met die nuwe Supra wat nou met Duitse krag gaan rubber brand. Terwyl die twee sportmotors ondermeer ‘n onderstel, enjin en ratkas deel, kry elkeen wel hul eie identiteit met unieke bakwerk en kajuitafwerkings. Die Supra model is egter net as ‘n koepee beskikbaar.
Tydens die plaaslike bekendstelling van die nuwe Z4 het BMWSA slegs twee modelle beskikbaar gemaak, naamlik ‘n sDrive 20i met ‘n 2.0 liter 4-silinder petrol-turbo enjin wat 140 kW en 320 Nm lewer en krag na die agterwiele stuur met behulp van ‘n 8-spoed outomatiese ratkas. Die 0-100 kpu lopie word aangegee as 6,6 sekondes en gemiddelde brandstof verbruik as 6,1 liter per 100 km. Die verkoopprys beloop R755 900.00.
Ons het egter slegs die topmodel M40i bestuur en was gaande oor die verrigting, paddinamika en sportiwiteit van die spesifieke Z4-model. Toegerus met die vervaardiger se warm 2,998cc reguit 6-silinder turbo enjin, was verrigting ‘n belewenis (veral met die dak weggevou) wat die bloed laat bruis het.
Met 250 kW en 500 Nm is die 0-100 kpu lopie in slegs 4,5 sekondes afgeblits met die topspoed wat elektronies by 250 kpu beperk word. Die ‘n seepgladde outokas wat krag na die agterwiele stuur, se oorskakelings was blitsig, veral in Sport en Sport+ rymodusse, selfs wanneer die ratspane agter die stuur gebruik is.
Die Z4 se lang neus en kort agterkant met ‘n opwip ingeboude vlerk, waar die bestuurder net voor die agterwiele sit, sorg vir ‘n tipiese Roadster ontwerp en ry-ervaring. Teenoor die uitgaande model is die nuweling 9 cm langer met ‘n spoorwydte wat opvallend verbreed het (10 cm voor en 6 cm agter). Volgens BMW het hul witjasse dit reggekry om ook nog ‘n paar kilogramme se gewigsverlies op die nuweling te bewerkstellig en saam met die M40i se kragtige enjin, is dit ‘n resep vir heerlik speel terwyl die wind jou kuif kam.

Die Z4 se kajuit is myns insiens die mooiste in sy segment. Die nuweling is toegerus met digitale instrumentasie en ‘n omvattende reeks van moderne en funksionele stelsels en bestuurderhulpmiddels, terwyl die pragtige sportsitplekke bydra tot ‘n sportiewe, moderne en visueel treffende kajuit.
Op die pad was die nuwe Z4 M40i ‘n absolute fees om te bestuur, veral met die dak weggevou sodat die gesuis van die wind en die pragtige sonoriese klanke van die uitlaatstelsel, veral wanneer die toere hoog gejaag word, soos musiek in die ore speel.
Paddinamika, verrigting, greep, balans en uitstekende terugvoer van die stuur, maak die nuwe Z4 M40i my gunsteling en eerste keuse in sy segment. Die hoër kraglewering en enjinklank van die Beemer druk my vorige gunsteling, die Porsche Boxter, nou na die 2de plek.
Teen R1 030 500 is die Z4 M40i nogal duur, maar sy treffende voorkoms, uitstekende paddinamika en opwindende verrigting vir loutere bestuursgenot, maak dit ‘n uitstekende kopie.