Categories: NewsPublished On: 1st February 2016

Staat se versuim bedreig boere: Kom ons maak ‘n plan

By 2 min read

pompom blom

Terwyl boere ten duurste sukkel en spook om hulle grond skoon van indringerplante te hou, teel pesplante soos pompom, lantana, sesbanië, luisbos, mak sering en bankrotbos onverhinderd en welig voort in die staat se padreserwes.

Daarvandaan dra voëls die saad na die boere se grond oor. Dit maak boere se stryd teen pesplante onmoontlik, onbekostigbaar en eindeloos. 

Hierdie skokkende foto is ‘n voorbeeld van die plate pompom wat die staat toelaat om onverhinderd voort te woeker langs die pad tussen Bronkhorstspruit en Bapsfontein.

Net so pragtig soos die pers blommetjie, so dodelik is die plant vir ons natuurlike weiveld, want waar die pompom indring, daar groei niks anders nie.

Pompom, oftewel, Campuloclinium macrocephalum, is as ‘n Kategorie 1-indringerplant geklassifiseer, wat beteken dat hy volgens wet voor die voet uitgeroei moet word. Kategorie 1-plante is uitheemse plante wat geen ekonomiese doel dien nie en skadelik vir mens, dier en die omgewing is – en dit is die pompom terdeë.

Die wortels skei ook ‘n chemiese stof af wat die omringende grond steriel maak sodat inheemse plantegroei nie kan ontkiem nie.

Die plant versprei maklik deur sy groot hoeveelhede saad wat nie net deur die wind aangehelp word nie, maak ook deur die mens, wat die oulike blommetjies langs die pad afpluk en elders weggooi. Dan het die plant ook nog ‘n ondergrondse stingel waardeur hy vegetatief voortplant.

As daar nog mense is wat bekommerd is oor die aanteel van pesplante in padreserwes, stuur asseblief vir ons foto’s daarvan na benine@proagri.co.za, met duidelike onderskrifte wat sê langs watter pad die foto geneem is.

As ons genoeg foto’s kry, sal ons dit aan georganiseerde landbou oordra met ‘n versoek om druk op die staat uit te oefen om hulle verantwoordelikhede te begin nakom.

Pompom is een van die pesplante wat weiding vernietig en boere eindelose skade kan besorg. Die staat se padreserwes dien as kweekhuis vanwaar hierdie en ander pesplante na plase versprei en boere se stryd teen pesplante onmoontlik maak.

Pompom is een van die pesplante wat weiding vernietig en boere eindelose skade kan besorg. Die staat se padreserwes dien as kweekhuis vanwaar hierdie en ander pesplante na plase versprei en boere se stryd teen pesplante onmoontlik maak.

0

Deel hierdie artikel.

2 Comments

  1. Johannes 3rd February 2016 at 09:21 - Reply

    Wat is die beste manier om pompom uit te roei?

    • Benine Cronje 3rd February 2016 at 11:17 - Reply

      Hey, probeer Brush-off van DuPont.

Leave A Comment

0