՚n Kaapse wewervoël is ons fotokompetisiewenner

pieter dicks_wen foto
Wenfoto
Pieter Dicks, ՚n tuinboukundige van Pretoria, het ons fotokompetisie gewen met die foto van ’n wewertjie. Pieter se wenfoto is by Pakhuispas naby Clanwilliam in die Wes-Kaap geneem, daar waar die volksdigter, C Louis Leipoldt, in die Cederberge rus.
“Ek is lief daarvoor om voëls af te neem,” sê Pieter. Sy gunsteling voël is ՚n berghaan.
Hy was baie bly om die boek te wen, want hy het glad nie gedink hy gaan wen nie. Pieter wen ՚n eksemplaar van Sappi Voëls van Suid-Afrika wat deur Briza uitgegee word. Dit is werklik ՚n omvattende werk met volledige spesiebeskrywings en agtergrondinligting oor die wonderwêreld van voëls en met ՚n klankleser kan jy ook na al die verskillende voëls se geluide luister.
“My hele familie is jaloers omdat ek die boek gewen het en ek het klaar die klankleser vir my gaan bykoop,” sê hy.

՚n Bietjie meer agtergrondinligting oor die boek:
Die voëls is in vier hoofgroepe verdeel in die boek naamlik, water- en vleilandvoëls, bos- en boomlandskapvoëls, roofvoëls en aasvreters, en veldlandskapvoëls. Met die maklik verstaanbare sleutelgidssimbole kan jy dadelik sien wat die spesie se habitat, broeiwyse, grootte en sosiale gedrag is.
Naamgidse in Afrikaans, Engels en die wetenskaplike name agter in die boek van 320 bladsye help jou om dadelik enige voël se beskrywing te vind. Die klank- en kleurprag van die voëls word aangevul deur die raakvat Afrikaanse beskrywings en name wat op die tong rol soos baardmannetjie, rooioorlangstertjie, swaelstertbyvreter, diederikkie, koekoek, bontkiewiet en aai-aai die witborskraai.

Die tweede plek vir die mooiste voëlfoto gaan aan Chris Meyer en die derde plek aan Theo Snyman.
