Categories: Stock and game farmingPublished On: 9th March 2016

Tuli: ‘n Antieke bees is sy gewig in goud werd

By 4 min read
720 words

tuli 2

Die heengaan van Stephan Welz, die bekende oudhedekenner en kunsafslaer, was ’n swaar slag vir Suid-Afrika se kunsgemeenskap. Sy wye kennis en unieke aanslag het TV-programme soos Trommel en Antikwaar uiters gewild gemaak by die kykerspubliek. Behalwe dat Stephan ’n passie gehad het vir kuns en oudhede, het hy ook ’n passie gehad vir sy antieke beesras. Toe Stephan en sy vrou, Carmen, in 1988 ‘n naweekwegkomplek op Tonteldoos, naby Dullstroom, gekoop het, het hulle gou besef dat die veld bestuur moet word.

Beeste was die aangewese oplossing, maar aangesien die Welze net elke tweede naweek op die plaas kon kom, moes die beeste tussendeur op hulle eie aangaan en veral sonder moeite en probleme kon kalf. Dit het nie lank geneem voor Stephan op Tulis besluit het nie; nie net omdat hulle aan al sy behoeftes op die plaas sou voldoen, uitstekende vleis produseer en rustig en bedaard is nie, maar ook omdat dit antieke beeste is met ’n ryke geskiedenis. Hierdie oorwegend poenskopras het oor ‘n tydperk van ongeveer 7 000 jaar in Afrika ontwikkel tot een van die mees geharde en aangepaste beesrasse bekend aan Suid-Afrikaanse boere.

Die Tuli is ’n Sanga, ’n sub- Sahara Bos Taurus, wat nader aan die Europese rasse as die Bos Indicus neig en basterkrag bied in kruisteling met albei hierdie tipes. Carmen en Stephan het hulle eerste Tuli-koeie in 1992 in Molteno gekoop. Omdat vroulike diere destyds nog baie skaars was, is hulle Zimbabwe toe waarvandaan elf dragtige verse ingevoer is. “Ons het vermoed dat daar in ’n stadium probleme sou kom met die invoer van genetika uit Zimbabwe. Om inteling te verhoed en om ons genepoel te vergroot, het ons mettertyd van soveel moontlik verskillende telers uit die stamland ingevoer,” sê Carmen. Stephan het ook ’n onbaatsugtige toekomsvisie vir die Tulis gehad. “Hy het by agt geleenthede vragte beeste ingevoer en drie keer het hy hulle regstreeks nasionale veilings toe gestuur om die nasionale genepoel te help vergroot,” sê sy. 

Die Blomvlei-stoet is in 1992 by Stamboek geregistreer en was vir agt agtereenvolgende jare een van die LNR se Mpumalanga-finaliste vir die Kuddes van die Jaar-toekennings. In die tyd het hulle 22 Elite-koeie geteel waarvan twee Farmer’s Weekly-koeie van die jaar was. Stephan en Carmen was en is albei Lewenslange Ere-Tuliraadslede vir dienste gelewer aan die ras. Stephan was vir elf jaar (tien agtereenvolgende jare) president van die Tuli-telergenootskap.

Gedurende sy ampstermyn het hy met telersgenootskappe in Australië, Texas VSA en Argentinië geskakel en topwetenskaplikes uit die lande genooi om hulle kennis aangaande die Tuli met Suid-Afrikaanse telers en belangstellendes te kom deel. Aangesien teelwaardes baie belangrik geword het in die bedryf, het Stephan, as president, met die Zimbabwe Genootskap en Stamboek onderhandel om die stamboeke en statistieke van al die Tulis sedert die 1940’s te bekom. Na drie jaar se speurwerk deur veral Carmen, in samewerking met die LNR en SA Stamboek, was die voorsate van al die Tulis in Suid-Afrika ontrafel en met die van Zimbabwe verenig sodat ons vandag ‘n baie meer betroubare stel Blup-teelwaardes het. Met klimaatsverandering wat stadig maar seker naderkruip, sal boere moet begin kyk na die taaiste beesrasse wat uiterste temperature kan hanteer. “Volgens die slim mense is dit net die geharde Afrika-beeste wat klimaatsverandering gaan oorleef. Hulle sinuskanale, asemhaling- en sweetstelsels is anders as die Europese rasse s’n en Afrikarasse het ook minder water, voedsel en grond nodig,” sê Callie Barnard, president van die Tuli-beestelersgenootskap. 

Met Stephan se skielike dood, die heersende droogte, die afstand plaas toe vanaf Johannesburg en die algemene veiligheidsrisiko om vrou-alleen die plaas te besoek, moes Carmen een van die moeilikste besluite sover in haar lewe neem, naamlik om hulle geliefde Tulis te verkoop.

Stephan en Carmen Welz by hulle pragtige Tuli-kudde uit ‘n besondere wye genepoel.

Stephan en Carmen Welz by hulle pragtige Tuli-kudde uit ‘n besondere wye
genepoel.

Die staakboerdery-veiling word op 22 April deur Vleissentraal op hulle plaas Blomvlei, 5 km vanaf Tonteldoos, aangebied. Carmen bied ongeveer 175 vroulike diere en 80 bulle van verskillende ouderdomme aan. Die vroulike diere wissel van speenkalf, reg vir die bul, by bul geloop/dragtig en drie-in-eens. Daar sal ook heelwat losgoed wees, onder meer ‘n Polaris-petrolnutsvoertuig maar wát presies, hang af van of die beeste almal verkoop word al dan nie.

Vir meer inligting, skakel vir Carmen Welz by 011-447-2858 of 083-266-6829, of skakel Vleissentraal Ermelo by 017-819-1106. Carmen se e-posadres is carmen@saccw.co.za.

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0