Categories: Crop production, NewsPublished On: 1st September 2017

Sojabone is lewensvatbare alternatief tot mielies

By 3 min read
sojabone

sojagroot

Sedert 2013 is daar jaarliks ‘n tekort aan sojabone wat, in die lig van die oorskot mielies, dit ‘n lewensvatbare plant-opsie vir landbouers maak.

Vanjaar se reuse-ooraanbod mielies sal in alle waarskynlikheid lei tot voorraad-oordrag na volgende jaar, terwyl die prys van mielies ook getuimel het – wat die aanplant van sojabone baie lewensvatbaar maak.

Paul Henning, die sake-ontwikkelingsbestuurder van Laeveld Agrochem, sê die plaaslike vraag na sojabone het sedert die 2012/13-seisoen van 730 000 ton tot 1,3 miljoen ton in 2015/16 amper verdubbel. Sedert 2013 was daar jaarliks ‘n tekort, ondanks die aanbod wat toegeneem het (sien grafiek).

Grafiek 1: Sojabone se vraag, produksie en aanplantings in SA vir die afgelope 10 jaar. Bron: (Graan SA: 2016)

Volgens Graan Suid-Afrika is die groter vraag na sojabone die gevolg van ‘n toename in die oliepersvermoë in die land. Die oliepersvermoë het van 860 000 ton in 2012 tot 2,2 miljoen ton toegeneem, maar net sowat 1,3 miljoen ton van die vermoë word gebruik.

Die Nasionale Oesskattingskomitee se jongste syfers, wat verlede maand bekend gemaak is, wys dat die verwagte sojaboon-oes vanjaar 1,34 miljoen ton sal wees, wat amper dubbel verlede jaar se oes is.

Sojabone is ‘n diverse produk, wat verskeie aanwendings het, soos dat dit ‘n bron van ru-olie is, as olie en as bron van proteïene gebruik kan word. Vir menslike gebruik word sojabone aangewend in die vorm van ‘n eetbare olie en as verwerkte voedsel. In die nywerheidsbedryf word dit gebruik as ‘n bestanddeel in die vervaardiging van verf, sepe, biodiesel asook plastiek. Die sojaboon-oliekoek is een van die land se belangrikste komponente van proteïen in die dierevoedingsbedryf.

Tabel 1: Verbruik van sojaboon-oliekoek en olie. (Departement van Landbou, Bosbou en Vissery : Voedsel mark analise verslag 2015)

Sojabone is een van die wêreld se belangrikste peulplante, want sowat 25% van alle eetbare olies en 66% van die wêreld se proteïnkonsentraat vir dierevoedsel is van die plant afkomstig. Amerika is die wêreld se voorste sojaboonverbouer, en lewer meer as ‘n derde van die globale aanbod.

Grondgesondheid en -toestande vir aanplanting:

Volgens Laeveld Agrochem is dit noodsaaklik om ‘n holistiese benadering te volg waarvolgens ‘n produsent die invloed van die fisiese, chemiese en biologiese faktore van grond in ag moet neem en reg moet bestuur. Dìt sal grootliks die sukses van die verbouing bepaal, want die grond en die groeimedium is wat dien as die platvorm waar die kultivar, bemesting en biologie bymekaar kom.

Die gebruik van die Rhizobium-bakterie is nuttig vir die produsent, want dit lei tot ‘n besparing op stikstof-bemesting, omdat Rhizobium stikstofgas natuurlik vanuit die atmosfeer fikseer. Dit behoort ook vanselfsprekend te wees dat inokulasie doeltreffend moet plaasvind om die bemestingbehoefte van die sojabone gedeeltelik te bevredig.

Laeveld Agrochem sê produsente moet kennis dra van die potensiële ekonomiese en finansiële verliese wat die swam Sclerotinia sclerotium kan veroorsaak. Laeveld Agrochem beskik oor kennis en toegang tot hulpmiddels vir die onderdrukking/beheer van die sklerotia van Sclerotinia sclerotiorum en Sclerotinia minor, wanneer dit gebruik word as ‘n grondbehandeling (sien onderstaande foto vir voorbeeld van Sclerotinia).

As gevolg van die stygende vraag en huidige tekort is sojabone definitief ‘n alternatiewe gewas wat landbouers in hul aanplantingsbeplanning moet oorweeg, mits die verbouing doeltreffend gedoen word, sê Laeveld Agrochem.

soja

Bykomende inligting:

Gedetaileerde inligting oor aanplanting kan gekry word by:

  • Pannar Seed (Pty) Ltd: Soybean Production Manual. Sien pannar.com
  • Arkansas Soybean Production Handbook deur Larry C. Purcell, Montserrat Salmeron en Lanny Ashlock.
  • Laeveld Agrochem: 012 940 4398. Sien laeveld.co.za. Kry hulp by tegniese kundiges vir doeltreffende aanplanting.

 

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment