Die-geen-sukkel-voermenger-vir-Afrika
Nick Rousseau, van Delnick boerdery naby Ottosdal, het ’n paar ander voermengers probeer voor hy Rumax ontdek het. Uiteindelik het hy gekry wat hy gesoek het en die afgelope jaar kan hy sy beeste die voer gee wat hulle verdien, sonder om met masjiene te sukkel.
“Ek was op soek na iets wat elke dag drie tot vyf ton materiaal kan stukkend sny en meng sonder sukkel,” sê Nick. Weens slytasie en stof wil hy nie ’n hamermeule gebruik nie.
Hy het so tussen vyfhonderd en ’n duisend beeste in die voerkraal en dit is ook vir hom belangrik dat al sy beeste hulle rantsoen in die regte verhouding inkry: volledig gebalanseerde mengsels vir die voerkraalbeeste en lek vir die veldbeeste.
Die groot voordeel van die Rumax is die manier waarop die spirale werk, meen Nick. By ander voermengers word die voer eintlik maar net vorentoe en agtertoe gedruk. By Rumax wys die
spirale na die middel toe. “Terwyl dit sny, maak dit ’n fontein van die materiaal met twee sirkelaksies na mekaar toe,” beduie Nick. Dit beteken dat daar geen dooie punte is nie, alles word regdeur eweredig vermeng.
Nick sê hy gooi heel bale mieliereste en gras in en die Rumax trek die bale binne enkele minute uitmekaar, kerf dit fyn en meng al die bymiddels wat nodig is, eweredig daarmee.
Die beste is dat die minimum aandrywingskrag nodig is. “Ek het sommer ’n klein driesilindertrekkertjie voor hom. Die mengaksie is verbasend lig omdat hy met ’n ratkas werk,” sê Nick. Dit beteken hy spaar ook op sy dieselrekening.
Nick sê hy het ’n paar ingevoerde produkte gesien wat dieselfde werk sal kan doen, maar teen dubbeld die prys en dan is dit nie vir Afrika-omstandighede gebou nie.
“’n Rumax word van behoorlike dik staal gemaak; dit is uit Afrika, vir Afrika,” sê hy.
Gee jou vee die beste groeikans met Rumax. Skakel Jaco Pieters by 023-342-6070 of stuur ’n e-pos na jaco@rumax.co.za.