Categories: NewsPublished On: 28th April 2016

BMW M2 Koepee: Eerste indrukke

By 5 min read

BMW M2_032

Uiteindelik het BMW se klein vlamgat, die nuwe M2, in Suid-Afrika geland en ons was bevoorreg om oopketel te jaag met een rondom die private renbaan by die Franschhoek Motormuseum.

Dit is so dat BMW se witjasse in die M-divisie nie sommer ‘n “M”-kenteken op enige model plaas nie. Die roemryke geskiedenis van M-karre vereis juis dat elke “M”-model spesiaal en besonders moet wees.

Juis vir daardie rede was die M2 se voorganger die 1M genoem en gedagtig aan die middel tagtigers se ikoniese M1, wou die witjasse die 1M nie as ‘n ware M-model in Munchen se boeke verewig nie. Tog was die 1M een van my gunsteling verrigting Beemers. Met ‘n kort en breë onderstel kon die 1M ‘n heerlike handvol wees as jy wil kole gooi. En daardie handratkas was ‘n juweel.

Noudat die 1-reeks koepee deesdae die 2-reeks genoem word, is daar geen beswaar dat die warm topmodel nou ‘n M2 heet nie. Bygesê, die nuwe M2 kom met baie meer woema en is in alle opsigte ‘n ware M-model.

Tydens die bekendstelling by die pragtige renbaan wat aan die voet van die Franschhoekberge nestel, het ek die voorreg gehad om een van my emmerskopdrome te vervul. Ek kon langsaan BMW se jong DTM kampioen Bruno Spengler sit terwyl hy alle hel uit ‘n M3 probeer jaag en in die proses dwarsdeur ‘n paar draaie gly terwyl rook uit die agterste bande borrel.

Daar was ongelukkig slegs een M2 in pragtige Long Island Blue afwerking beskikbaar – so ons moes ons beurt afwag. Troosprys was daar was die volle reeks M-karre wat in Suid-Afrika verkoop word beskikbaar waarmee ons na hartelus rondom die baan kon jaag. Die M5 Competion Pack, Nr 1 van 20 van die peperduur M6 Pure Metal met 447kW (my gunsteling naas die M2), X5M, X6M, M3, M4 Coupe met Performance Pack, M4 Cabrio asook M6 Coupe (die lekkerste om deur die draaie mee te “drift”) en M6 Cabrio. Voorwaar ‘n “M” paradys. 

Die M2 is geskoei op die M235i, maar in my gesprek met die hoofingeneur agter die ontwikkeling van die M2, het hy genoem dat in sy agterkop was die ikoniese M3 CSL (wat ek en hy terloops reken die beste M-kar nog was) die maatstaf. Hy wou dieselfde stuurgevoel, enjinklank (met die nuwe turbo enjins is dit eintlik onmoontlik maar hy wou so na as moontlik daaraan kom) en dinamika in die M2 repliseer as wat die CSL so ‘n besondere baankar gemaak het. Hy was terloops ook verantwoordelik vir die ontwikkeling van die CSL.  

Terwyl die enjin van die M2 ook gebasseer is op die enjin in die M235i, is daar heelwat M3/M4 onderdele wat hulle pad gevind het na die M2, ondermeer die krukas, suiers, verkoelingstelsel, asook die remstelsel. So ook vir die spesiale  M-ewenaar asook die verrigting uitlaatstelsel wat omtrent ‘n luide brul in die keel van die M2 sit.

Die 3.0-liter reguit 6-silinder turboaangejaagde petrolenjin dryf deur die agterwiele via of ‘n 6-spoed handratkas of die 7-spoed M-DCT dubbelkoppelaar ratkas.

Die enjin lewer 272kW se piek krag @ 6500rpm en skop 500Nm wringkrag (1400-5500rpm) uit met “Overboost” in werking. Met die wringkrag reeds beskikbaar vanaf lae toere is die die liniêre versnelling van die M2 verstommend. Die 0-100kpu lopie neem 4,3 sekondes met die DCT kas en sou jy die opsionele “M-Driver’s Package” in jou M2 geïnstalleer het, stop die naald eers op 270kpu.

Binnekant is die M2 soortgelyk aan die M235i behalwe vir M-stuurwiel, M- insignia en blou stiksels in die leerbekleedsel. Die diep sportsitplekke, Alcantara leer en koolstofvesel afwerking dra by tot ‘n luukse en tog sportiewe kajuit wat uiteraard rondom die bestuurder ontwerp is.

Om die baan was dit duidelik dat die M2 ontwikkel is om juis daar te presteer. Die M2 is nie heeltemal so willewragtig soos die 1M nie, daarvoor maak die agterste vering seker dat  die agterwiele net te veel greep het.  Die stuur is heerlik gefokus en die balans as jy hard op die brieke klim aan die einde van ‘n lang oopketel-pylvlak om dan skerp deur die draai en so gou moontlik weer die petrolpedaal te plant, is onbeskryflik   lekker.

Omdat die wringkrag so laag in die toerestrek reeds beskikbaar is, kan jy gemakliker en vinniger in ‘n hoër rat uit die draai klim. Die M2 is egter ook heel gemaklik om teen 7000 toere deur die draai te skree terwyl die vet tekkies op 19 duimers aan die teer klou.

Is dit die beste M-kar ooit? Wel, meer tyd agter die stuur sal leer. Daar is ander M-karre wat veel kragtiger en veel vinniger in ‘n reguit lyn kan nael. Deur die draaie en skerp haarnaald bogge was die CSL koning. Die M2 is dalk nie die vinnigste of kragtigste nie, maar dalk, net dalk kan dit die ander troef.

Intussen droom ek maar van my tyd saam met Bruno “flat-out” deur die draai in daai goue M3 om ‘n pragtige renbaan tussen lappe wingerde. En ek wag vir daai week alleen met die M2 deur die bergpasse van die Boland.

Prys

Die  M2 Koepee in handrat  verhandel teen R791 000, terwyl die 7-spoed M-DCT model R841 000 kos.

Dit is na my mening uitstekend geprys, en die goeie nuus is dat anders as met die 1M gaan daar nie ‘n beperking wees op die hoeveelheid modelle wat gebou gaan word nie.

Ultimate-Drive

Artikel geskryf deur Dirk Gallowitz

BMW M2 Coupe  Cover Pic

BMW M2_077

BMW M2_078

BMW M2_081

BMW M2_096

 

0
Tags: ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0